Nederlaag dalk bedekte seën vir Bulls

Vanaand se nederlaag teen die Stormers kan straks ’n bedekte seën vir die Bulls wees in vanjaar se veldtog om weer die Super15-kampioene te word.

Hulle het met 30-13 die onderspit teen die Kapenaars op Nuweland gedelf en sodoende hul eerste nederlaag in tien wedstryde gely. Die halftydtelling was 23-13. Die Bulls-kaptein, Dewaldt Potgieter, het juis hierdie week gesê hy en sy span hoop die Stormers werp alles in hierdie twee spanne se klipharde stryd want hulle wil deeglik getoets word voor die halfeindrondes, iets waarvoor die Stormers nie gekwalifiseer het nie. Bryan Habana het vanaand sy laaste wedstryd ooit in ’n Stormers-trui gespeel sonder om ooit Super15-glorie daarin te ervaar. Die Kaap is egter Hollands vandag met die WP wat boonop die Cravenweek-beker verower het.

Hef aan lê nou voor vir die Bulls. Hulle mis sleutelspelers soos Francois Hougaard, Juandre Kruger, Pierre Spies en Jan Serfontein. Hulle sal hard moet werk van Maandag af as hulle die Super15-beker wil lig, maar hulle is gekwes en is bekend daarvoor om gou ’n ommekeer te bewerkstellig. Hul teenstanders in die halfeindronde sal hulle boonop op Fort Loftus in Pretoria moet aandurf. Dit maak hulle baie gevaarlik.

Ewenwel, Eben Etzebeth het in die eerste helfte gaan druk toe sy pak voorspelers vanaf ’n lynstaan gemaal het en die Bulls min weerstand kon bied. Gary van Aswegen het dit 7-0 met die verdoelskop gemaak. Nadat Morné Steyn ’n strafskop oorgeklits het, het Bryan Habana vir die Stormers agter die pale gaan kuier nadat hy die Bulls-verdedigers oorhoops met ’n insny-beweging gehad het. Die Bulls-heelagter, Zane Kirchner, het daarna witlynkoors gehad en Steyn het dit 14-10 gemaak. Van Aswegen het ’n verdere drie strafdoele deur die pale gejaag, en Steyn het met een geslaag, voordat Craig Joubert die halftyd-fluitjie geblaas het.

Jean de Villiers het die enigste drie van die tweede helfte en die laaste een van die wedstryd gedruk toe hy die bal op die Bulls se doellyn agter ’n losskrum opgetel en oorgeduik het. Dis byna identies aan die drie wat hy in die openingswedstryd van hierdie jaar se Super15 teen die Bulls op Loftus Versfeld gedruk het. Die Bulls het veral later in die tweede helfte momentum begin opbou, die Stormers onder druk gehad en vernuftig aangeval. Dit was egter als vergeefs soos wat hulle die een hanteerfout op die volgende gemaak het. Die Pretorianers pak in twee weke die Cheetahs of Brumbies in Pretoria.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Francois ·

UIT DIE BLOU VAN ONSE STORMERS, DEUR DIE KNIEE VAN ONSE BULLE, DEUR ONS EWIGE GESWOEGTE VAN ONS ANGS BEVANGE BULLE. ONS SAL LEWE ON SAL STERWE ONS VIR JOU ONSE STORMERS.

Berita Drescher ·

DIE KAAP IS NOG STEEDS HOLLANDS ……DANKIE MY LEKKKKKKKKKERRRR DING! ONS IS SOOOOO TROTS OP JULLE.! STORMERS 4 LIFE! Kuier lekker en kom weer sterk terug asb!

Rudie Thirion ·

Ai tog, watter blougekleurde kommentaar is dit tog nie. In die laaste 20 minute het die Stormers soveel druk op die Bulle geplaas met hulle verdediging dat die Bulle een hanteerfout na die ander begin maak het. Mens kon sien hoe hulle paniekerig raak na gelang die Stormers met hul puik verdediging hulle terug geduik het. Dit is kommerwekkend, want almal van ons wil die beker in SA hê. ‘n Ware kampioenspan bly kalm en geduldig en raak nie paniekerig nie.

Wat die blounalis ook vergeet het om te sê is dat die Stormers vir 20 minute net 14 man op die veld gehad het. 10 daarvan was juis in die tyd dat die Bulle “vernuftig aangeval” het. En tog kon hulle nie hond haaraf maak nie.

Van die 4 spelers wat die Bulle se pryssanger “sleutelspelers” noem sou ek net aan Jan Serfontein daardie titel toedig. Die middelveld was maar half skraal sonder hom.

Laastens, dis sommer net ‘n doelskop. Dis die eerste keer in baie jare se rugbyberigte lees dat ek die woord “verdoelskop” op die lyf loop. Die “ver-” is al saam met die vervyfskop weggegooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.