Ackerley-belegging: ‘Nee, ons verkoop nie die Springbokke’

Die Springbokke is nie net ’n viermalige Wêreldkampioenspan nie, hulle klop ook die toerspan van die Britse en Ierse Leeus. (Foto: Rodger Bosch/AFP.)

Te midde van die Ackerley Sports Group (ASG) se belangstelling om ʼn aandeel in SA Rugby (Saru) se kommersiële regte te bekom, het die nasionale rugbybeheerliggaam die versekering gegee dat hy nie die Springbokke verkoop nie.

“Die Springbokke en alle nasionale spanne sal hul bestaande bestuurs- en eienaarskapmodelle behou. As nasionale instellings is die Springbokke en SA Rugby nie oordraagbaar na ʼn private ekwiteit nie,” het Saru in ʼn verklaring gesê.

Die beplande vennootskap gaan uitsluitlik daarop fokus om Saru se kommersiële profiel te verhoog.

Boonop is die raadsaalvergaderings ook nog glad nie afgehandel nie.

“Ons span het die mandaat gekry om verdere besprekings te voer. Saru-lede het weliswaar ooreengekom oor die primêre voorwaardes, maar daar word nog hard agter die skerms gewerk om die spesifieke besonderhede te finaliseer.”

Volgens Saru is die fynskrif as’t ware van groot belang en die groen lig sal nie gegee word voordat sy lede deeglik ingelig en ʼn mandaat verkry is nie.

“Daar kan eers oor die proses ooreengekom word sodra ons 14 unies dit goedgekeur het.”

Maroela Media het verlede week berig dat ASG sy beursie groot kan oopmaak en $75 miljoen (ongeveer R1,4 miljard) gee om ʼn aandeel in Saru se kommersiële regte te bekom.

Kragtens die bepalings van die ooreenkoms, wat onderhewig bly aan verdere onderhandelinge en finale goedkeuring deur die provinsiale rugbyunies, sal ASG belê in ʼn houermaatskappy vir al die inkomste – huidig en toekomstig – wat uit die Springbokke en Saru se bates vloei.

Saru sal steeds die meerderheidsaandeelhouer wees, terwyl die Ackerley-groep ʼn beduidende minderheidsbelang bekom.

“Ons is opgewonde oor die vooruitsig om saam met die Springbokke – ’n legendariese internasionale sportfranchise – te werk. Ons vennootskap kan vir ʼn wêreldwye uitbreiding van die mees ikoniese handelsmerk in rugby sorg,” het Ted Ackerley, medestigter van ASG, gesê.

“Ons sal ook aandagtig na die mense van Suid-Afrika luister om te sorg dat die Springbokke voortgaan om die geskiedenis en kultuur van hierdie wonderlike land te weerspieël.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Maak oop die krane…die krippe is leeg en die kaders honger!!!!!!

Republikein in die Wes Kaap ·

Verkoop is onnodig. Gee die spulletjie eerder weg.

capie ·

Die angstigheid om te verkoop laat my vermoed dat ‘n paar gatsakke weer dik gestop gaan word. Daarom die walgooiery?

Papsak ·

Die land is weg gegee so gee die bokke ook maar weg alles word mos maar net weg gegee !!!!!?

Cassie Carstens ·

Hierdie gransaksie lyk vir my baie verdag. Waarom is die rugby unies nie in die saak geken nie? Wonder hoeveel vaan die ge3ld gaan in die hoofde by SARU se sakke beland?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.