Tien gevangenes het Woensdag omstreeks 13:00 uit polisie-aanhouding by die Klerksdorp-hofselle ontsnap.
Brig. Thulani Ngubane het gesê ʼn polisiebeampte het glo ʼn seldeur oopgesluit om ʼn man vry te laat wat borgtog toegestaan is, toe ʼn groep mans die beampte aangeval en oorrompel het. “Hulle het die beampte se sleutels gesteel en deur die hof se laai-area ontsnap,” het Ngubane gesê.
Ngubane sê een verdagte is kort daarna in hegtenis geneem deur ʼn polisiebeampte wat teruggekeer het van middagete af.
“ʼn Grootskaalse soektog is steeds na die ander nege gevangenes aan die gang. Hulle is in hegtenis geneem op klagtes wat wissel van diefstal, roof en aanranding tot voertuigdiefstal.”
Die polisie versoek die gemeenskap om op die uitkyk te wees vir enige verdagte persone. Hulle waarsku dat die publiek nie die verdagtes moet konfronteer nie, maar dadelik die Klerksdorp-polisiestasie skakel by 018 464 5079/80 of by 10111.
Die polisie het ʼn interne ondersoek van stapel gestuur om te bepaal of daar teen enige polisiebeamptes opgetree gaan word.