Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, sê hulle het Dinsdagmiddag vyf verdagtes in Warmbad in hegtenis geneem nadat hulle ʼn wenk ontvang het. Die verdagtes het ʼn renosterhoring in hul besit gehad. Die horing is vermoedelik die van ʼn renosterbul wat ʼn paar maande gelede doodgemaak is. Die vyf verdagtes, tussen die ouderdomme van 23 en 34, sal na verwagting Donderdag in die Bela Bela-landdroshof verskyn. Die polisie het ook op die verdagtes se motor beslag gelê.
Ramaloko sê in ʼn ander voorval is die Valke na die plaas Zonderwater in Ellisras ontbied nadat twee renosters geskiet is. Die een se horing is verwyder en die ander een is gewond. Vier verdagtes is in hegtenis geneem en die polisie het op renosterhorings, ʼn jaggeweer, ammunisie, ʼn saag en ʼn motor beslag gelê. Die verdagtes het Woensdag in die Lephalale-landdroshof verskyn en die saak is tot 28 Maart uitgestel wanneer hulle om borg sal aansoek doen.