Nege vas na moord op drie mans

handcuffs3-320x257Nege mense is in hegtenis geneem in verband met die dood van drie mans in Noordwes.

Brig. Thulani Ngubane, woordvoerder van die polisie, sê die nege verdagtes, tussen 30 en 47 jaar oud, is in Rustenburg in hegtenis geneem. Dit volg nadat drie mans in afsonderlike voorvalle vermoor is en eiendomme aan die brand gesteek is in die Freedom Park informele nedersetting buite Rustenburg. Twee van die slagoffers was van Lesotho afkomstig. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle Saterdagaand twee mans by ʼn kroeg aangeval het. Woedende gemeenskapslede het een van die buitelanders Sondag aangekeer, hom na die kroeg geneem en hom aan die brand gesteek. Dieselfde groep inwoners het toe glo die tweede buitelander ook aangekeer, hom kaal uitgetrek en hom vermoor. Die derde slagoffer was ʼn plaaslike sakeman wat Maandag vermoor is nadat gemeenskapslede hom daarvan beskuldig het dat hy die ander twee oorledenes probeer beskerm het. Die nege verdagtes sal na verwagting Woensdag in die Bafokeng-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.