Nelson, Madiba, Tata, Khulu: Mandela se name en wat dit beteken

Nelson Mandela, 2 Junie 2009 Foto: Nelson Mandela Stigting/SAPA

Daar is dikwels na oud-president Nelson Mandela verwys as Madiba, Tata of Khulu. Wat beteken die name en waar kom dit vandaan?

Mandela is op 18 Julie 1918 gebore en is deur sy ouers Rolihlahla Mandela gedoop. Rolihlahla beteken in Xhosa “om ’n boomtak te ruk” terwyl dit in die omgangstaal “moeilikheidmaker” beteken. Mandela het reeds op sy eerste skooldag die naam Nelson gekry. In dié tyd was dit die gebruik onder Afrikane om vir kinders “Engelse” name te gee, aangesien hulle regte name dikwels moeilik was om uit te spreek. Dit is egter nie duidelik hoekom Mandela se onderwyser op dié naam besluit het nie.

Daar is ook dikwels na Mandela verwys as Madiba, sy Xhosa-stamnaam. Tata, die Xhosa-woord vir “pa”, is ook een van die name waarmee na Mandela verwys is aangesien hy vir baie ʼn vaderfiguur was. Mandela is ook dikwels Khulu genoem, wat “groot” beteken en ʼn verkorte vorm van die Xhosa-woord uBawomkhulu is, wat “oupa” beteken. Mandela het ook op 16-jarige ouderdom die naam Dalibhunga gekry nadat hy ʼn inisiasie-seremonie bygewoon het. Dit beteken “skepper” of “stigter van die raad”.

Hier is ‘n video met 10 feite oor Mandela wat nie algemeen bekend is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.