Nelson Mandela: Só groet bekendes

Bill Clinton en Nelson Mandela Foto: Bill Clinton, Twitter

Bill Clinton en Nelson Mandela Foto: Bill Clinton, Twitter

Talle bekendes en wêreldleiers het Vrydag reageer op die nuus van oud-president Nelson Mandela se afsterwe. Dit is wat hulle te sê gehad het:

Barack Obama (president van Amerika): Hy het meer bereik as wat mens van enigiemand kan verwag.

Bill Clinton (voormalige president van Amerika): Ek sal nooit my vriend Madiba vergeet nie. Die geskiedenis sal hom onthou as ʼn voorstander vir menswaardigheid en vryheid, vrede en versoening.

Jacob Zuma (president van Suid-Afrika): Ons nasie het sy grootste seun verloor. Ons mense het ʼn pa verloor.

FW de Klerk (oud-president van Suid-Afrika): Ek glo dat sy voorbeeld sal voortbestaan en Suid-Afrikaners steeds sal inspireer om sy strewe na nie-rassisme, geregtigheid, menswaardigheid en gelykheid vir almal te bereik.

David Cameron (eerste minister van Engeland): ʼn Groot lig is in die wêreld afgeskakel.

Koningin Elizabeth II van Engeland: Hy het onvermoeid gewerk vir die beste belang van sy land en sy nalatenskap is die vreedsame Suid-Afrika wat ons vandag sien.

Prins Charles van Engeland: Daar is nou ʼn reuse leemte in die lewens van sy familie, Suid-Afrikaners en almal wie se lewe verander is deur sy stryd vir vrede, geregtigheid en vryheid.

Prins William van Engeland: Ons word herinner aan watter buitengewone en inspirerende man hy was.

Die Suid-Afrikaanse Rugby Unie: Hy het die 1995 Rugbywêreldbeker, die eerste groot sportgeleentheid in Suid-Afrika ná die demokratiese verkiesing in 1994, gebruik as ʼn instrument om verandering mee te bring en eenheid onder alle Suid-Afrikaners te bewerkstellig.

AB de Villiers, krieketkaptein van Suid-Afrika: Laat ons nou, meer as ooit vantevore, saamstaan as ʼn nasie! Ons skuld hom dit.

Muhammad Ali (bokslegende): Hy het ons vergewensgesindheid geleer op ʼn reuse skaal. Hy was ʼn vrygees, bestem om bo reenboë uit te sweef. Sy gees sweef vandag in die hemel. Hy is vir altyd vry.

David Beckham (voormalige kaptein van Engeland se sokkerspan): Ons het ʼn ware heer en brawe mens verloor. Dit was ʼn eer om ʼn man te ken wat werklik lief was vir soveel mense.

Pele (sokkerlegende van Brasilië): Hy was my held, my vriend.

Idris Elba (Britse akteur wat die rol van Mandela vertolk het in die rolprent Nelson Mandela: Long walk to freedom): Ons het een van die grootste mense verloor wat nog ooit op hierdie aarde gewandel het.

Morgan Freeman (Amerikaanse akteur wat die rol van Mandela vertolk het in die rolprent Invictus oor die 1995 Wêreldbeker): Die wêreld het vandag een van die ware reuse van die afgelope eeu verloor.

Charlize Theron (Suid-Afrikaanse aktrise): Rus in vrede, Madiba. Ons sal jou mis, maar jou impak sal vir altyd voortbestaan.

Larry King (voormalige onderhoudvoerder op CNN): Hy was so welsprekend en deftig.

Bill Gates (stigterslid van Microsoft): Sy genade en waagmoed het die wêreld verander.

Richard Branson (stigterslid van die Virgin-groep): Nelson Mandela het leierskap herdefinieer. Hy het gewys dat groot dinge bereik kan word deur met wysheid, empatie en integriteit te lei, met geen ander agenda buiten menslikheid nie.

Donald Trump (Amerikaanse miljardêr): Ek en Nelson Mandela het ʼn wonderlike verhouding gehad. Hy was ʼn spesiale man en sal gemis word.

Manmohan Singh (eerste minister van Indië): ʼn Reus onder manne het geval. Dit is net soveel ʼn verlies vir Indië as vir Suid-Afrika. Hy was ʼn ware volgeling van Gandhi.

Ban Ki-moon (sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies): Nelson Mandela was ʼn reus vir geregtigheid en plat-op-die-aarde menslike inspirasie.

Vladimir Putin (president van Rusland): Mandela, wat deur die moeilikste beproewing is, was tot die einde toegewyd tot die ideale van humanisme en geregtigheid.

Goodluck Jonathan (president van Nigerië): ʼn Bron van inspirasie vir almal wat regoor die wêreld onderdruk word.

Emeritus aartsbiskop Desmond Tutu: Hy het mense verenig van die oomblik wat hy uit die tronk uit gestap het. Hy het ons geleer hoe om saam te kom en in onsself te glo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.