Nelson Mandela oorlede

Nelson Mandela Foto: Werner Beukes/SAPA

Oud-president Nelson Mandela is Donderdagaand omstreeks 20:50 in die ouderdom van 95 jaar by sy huis in Houghton, Johannesburg oorlede.

Pres. Jacob Zuma het Donderdagaand gesê Mandela het vreedsaam heengegaan.

Mandela is sedert Januarie 2011 verskeie kere in die hospitaal opgeneem, meestal weens longkwale vanweë die tuberkulose wat hy tydens sy 27 jaar in die tronk opgedoen het. In 2011 lei sy hospitalisering tot groot paniek toe daar vir bykans 32 uur geen amptelike nuus oor sy toestand bekend gemaak word nie. Daar word later bekend gemaak dat hy vir ʼn akute lugweginfeksie behandel is. Die presidensie het hierna openbare skakeling oor Mandela se gesondheid oorgeneem. Tussen 2011 en 2013 word Mandela verskeie kere vir korter en langer tydperke in die hospitaal opgeneem en vir ʼn verskeidenheid kwale en siektes behandel. Dit was vir Suid-Afrikaners duidelik dat die geliefde oud-president se gesondheid besig was om agteruit te gaan.

Rolihlahla Mandela is op 18 Julie 1918 in die Transkei gebore. Hy is later deur ’n onderwyseres die naam “Nelson” gegee. Hy sluit in 1944 by die ANC aan en is deel van die weerstand teen die regerende Nasionale Party se apartheidsbeleid. In 1956 word hy in hegtenis geneem op aanklag van hoogverraad, maar in Maart 1961 word hy vrygespreek. Die ANC se gewapende vleuel Umkhonto we Sizwe (MK) word kort hierna gestig om die land gewelddadig oor te neem.

Mandela word weer in 1962 in hegtenis geneem en tot vyf jaar tronkstraf en harde arbeid gevonnis. In 1964 word Mandela en verskeie ANC-leiers tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hulle daarvan beskuldig is dat die hulle die regering wou omverwerp. Hy word van 1964 tot 1982 by Robbeneiland aangehou waarna hy na die Pollsmoor-gevangenis en later na die Victor Verster-gevangenis oorgeplaas word. In dié gevangenis word hy met tuberkulose gediagnoseer.

Op Sondag, 11 Februarie 1990 word hy vrygelaat en in Julie 1991 word hy tot president van die ANC verkies. In Mei 1994 is Mandela, op 75-jarige ouderdom, as Suid-Afrika se eerste swart president ingehuldig. Hy is die oudste verkose president wat Suid-Afrika al gehad het.

Madiba is op sy 80ste verjaardag in 1998 met Graça Machel getroud. Hy het in 1999, na een termyn as president, uitgetree. Hy het hom hierna besig gehou met die Nelson Mandela-kinderfonds wat hy reeds in 1995 op die been gebring het. Hy het ook as spreker opgetree by verskeie internasionale geleenthede, maar het stadig maar seker uit die openbare oog begin verdwyn. Mandela het hierna enkele kere in die publiek verskyn, waaronder in 2008 toe hy ʼn konsert wat in Londen gehou is ter ere van sy 90ste verjaardag, bygewoon het. In 2009 het Madiba vir die vierde keer in sy lewe sy kruisie getrek tydens die algemene verkiesing, waarna hy die inhuldiging van die verkose president Jacob Zuma bygewoon het. In Julie 2010 maak Mandela sy laaste openbare verskyning toe hy en sy vrou die afsluitingsplegtigheid van die Wêreldbeker-sokkertoernooi bywoon.

Pres. Jacob Zuma en ander lede van die ANC het in April 2013 besoek afgelê by Madiba se huis in Houghton, Johannesburg. Hier is ‘n video van dié besoek. 

http://youtu.be/pWOkqN8DcoM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Ja dit wys net hoe die kinders en ander die land vir maande lank belieg het. Net eergister nog het sy dogter vertel hoe goed gaan dit met hom hoe sterk is veral sy gees, maar hoe is dit dan moontlik dat die amptelike aankondiging van sy dood enkele ure later gedoen is? Dit bly vir my ‘n raaisel hoekom die land sedert sy laaste siekbed daagliks onder ‘n vals indruk gebring is oor hoe siek hy werklik is. Wat het hulle gehad om weg te steek?

Meisie ·

Mandela het gestaan vir VREDE , maar daar is soveel mense wat dit onder hulle voete vertrap het!!!!!
Moord, verkragting, bedrog en korrupsie is aan die orde van die dag, en het `n nasionale tydverdryf in SA geword!! Ek is bly dat hy nie meer daar is om te sien hoe ons land in die afgrond ingaan nie!! zuma moet sy kop laat sak en ek glo nie hy is dit werd om enige kommentaar oor Mandela te lewer nie , hy moet liewer in `n gat gaan kruip en daar bly!!!!!!!!!!

Richard ·

Nelson Mandela se dood het natuurlik baie verskillende reaksies uitgebrink veral onder Afrikaners. Die Engelse weer is meer verenig hoe hulle oor Mandela voel.

Mandela ht uit die tronk gestap met geen wrok nie, hy wou Suid Afrika REGTIG laat werk het vir almal, ongelukkig was hy al te oud om Suid Afrika ten minste vir twee termyne te stuur. Die uitrafeling het begin met Mbeki, en nou die totale uitmekaarval met ons hanswors genaamd “Jacob Zuma”

As ek die ANc was het ek eerder vandag my kop in skaamte gesak met die besef dat die Anc so ver van rasseharmonie is as wat die aarde en Jupiter van mekaar is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.