Nelspruit gaan hof toe oor naamsverandering

Inwoners van Nelspruit in Mpumalanga het meer as R300 000 ingesamel om die verandering van die dorp se naam na Mbombela teen te staan.

Meer as 20 000 inwoners en die Laeveld Sake- en Toerismekamer sal dié voorstel in die hof daag, het ‘n Sapa-korrespondent Dinsdag berig. Die saak teen die departement van kultuur, sport, en ontspanning sal op 26 Augustus in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word. “Die besluit deur die sakekamer om die naamsverandering teen te staan kom nadat 23 000 inwoners ‘n petisie geteken het,” het Linda Grimbeek, finansiële bestuurder van die sakekamer, gesê. “Dit is ‘n duidelike aanduiding van wat die gemeenskap wil hê. Dis nou al sowat vier jaar lank ‘n stryd; ons is dankbaar dat dit uiteindelik in die hof beslis gaan word.”

Nelspruit se naam is op 16 Oktober 2009 amptelik na Mbombela toe verander.

Volgens Grimbeek sal die naamsverandering die Mbombela-plaaslike munisipaliteit sowat R450 miljoen kos. “Die munisipaliteit is reeds in die skuld, so nie hulle of die gemeenskap kan dié bedrag bekostig nie,” het Grimbeek bygevoeg. Volgens Grimbeek sal die uitkoms van dié saak ‘n presedent skep vir soortgelyke sake in die res van die land. “Ons kan ‘n maatstaf stel met dié hofsaak wat ander dorpe met belangstelling gaan dophou. Daar is 52 ander dorpe in die land wat hul eie naamsverandering kan teenstaan indien ons die saak wen. Indien só iets gebeur, sal dit internasionaal nuuswaardig wees.”

“Die departement, die sambreelliggaam vir die provinsiale geografiese naamkomitee volstaan by die naamsverandering,” het Sibongile Nkosi, woordvoerder van die departement van kultuur, sport en ontspanning in Mpumalanga, gesê. “As ‘n departement hou ons by die status quo dat Nelspruit nou as Mbombela bekendstaan. Ons wag vir die uitslag van die hofsaak en sal die uitspraak respekteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Melissa ·

Go Nelspruit!! Hoop hulle wen die saak!! Hoekom R450miljoen mors om ‘n naam te verander??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.