Nelspruit-man wreed deur twee sjimpansees aangeval

Eugene Cussons en een van die Chimp Eden-sjimpansees.

ʼn Amerikaanse navorser by die Jane Goodall Instituut, Chimp Eden in Nelspruit, is Donderdag wreed deur twee sjimpansees aangeval. Die man, wat nie geïdentifiseer mag word nie, se een oor, ʼn paar van sy vingers en ʼn paar tone is deur die sjimpansees afgebyt. Sy enkel is deels geamputeer en hy het bytplekke aan sy kop, keel, bors, bene en liesarea opgedoen.

Die man, wat nog nie geïdentifiseer mag word nie, is in die Nelspruit Medi-Clinic opgeneem en sy toestand is stabiel.

Eugene Cousins, eienaar van Chimp Eden, het aan die Laeveld Nuus gesê die man het glo gesien hoe een van die sjimpansees die heining van sy kamp probeer beskadig. Hy het klaarblyklik toe nader gestap, waarna twee sjimpansees dit reggekry het om hom te gryp en deur die heining te trek. Hy is na bewering sowat ʼn kilometer die kamp ingetrek terwyl hy aangeval is.

Cousins sê hy was eerste op die toneel en het daarin geslaag om die sjimpansees te verwilder. Hulle het daarna deur die beskadigde heining ontsnap, maar die personeel van Chimp Eden het blitsig opgetree en die sjimpansees was kort voor lank weer terug in ʼn kamp.

Besoekers aan die plaas is onmiddellik na veiligheid geneem toe die voorval plaasvind.

Jame Goodall Chimp Eden is internasionaal bekend vir die goeie werk wat hulle doen om sjimpansees wat in onaanvaarbare omstandighede regoor Afrika aangehou word, te red, na Suid-Afrika te vervoer en hulle te rehabiliteer in ʼn natuurlike omgewing. In die groot kampe op die plaas word die sjimpansees geleer om weer vir hulself te kan sorg en in troppe te funksioneer. Baie van die sjimpansees kan egter nooit weer in die natuur vrygelaat word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.