Neusie verby met toetskaartjies: dis duidelik lekker op Loftus

Loftus Versfeld in Pretoria. (Foto: GB Jordaan)

Die intimidasiefaktor op Loftus Versfeld skiet altyd die hoogte in wanneer die pawiljoensitplekke vol is.

Vra net vir enige span wat dan teen die Bulls kragte meet, terwyl Ierland dit vroeg in Julie eerstehands sal ervaar wanneer hulle teen die Springbokke op die einste veld speel.

Want skaars ʼn dag of twee nadat meer as 50 000 toeskouers gesien het hoe die Bulls die Stormers se tweestrydwenlopie beëindig – niemand klop mos die Pretorianers agt keer op ʼn streep nie – is die kaartjies vir die jaar se eerste tuistoets ook uitverkoop.

Loftus Versfeld sal op 6 Julie volgepak wees wanneer die Wêreldkampioen-Springbokke teen die internasionale verhoog se naasbeste span speel.

Kaartjies vir die toets is Maandag amptelik beskikbaar gestel en dit is alles binne slegs ʼn paar uur opgeraap. Ja, daar is nog hier en daar ʼn gasvryheidspakket of so beskikbaar, maar daar sal weer eens nie plek vir ʼn muis op dié ikoniese Jakarandastad-rugbyveld wees nie.

“Dit is fantasties. Vir die afgelope paar jaar herleef die rugbykoors in Pretoria. Ons ervaar ʼn definitiewe opwaartse kurwe wat bywoning betref,” het Willem Strauss gesê.

“Pretoria het hom nou as’t ware ook bewys as rugbyhoofstad van Suid-Afrika,” het hy tong-in-die-kies bygevoeg.

Volgens die Blou Bulle-rugbyunie se president is dié kaartjieverkopesukses te danke aan goeie spanwerk: Die unie se Edgar Rathbone (uitvoerende hoof) en Stefan van der Merwe (kommersiële bestuurder) verdien ook ʼn hengse klop op die skouer vir hul harde werk.

Boonop is rugbyondersteuners wat kaartjies vir ʼn Loftus-wedstryd koop ook lief vir die sport.

GB Jordaan, Maroela Media se sportfotograaf, het Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-aksie van agter sy kameralens dopgehou en hy vertel dat die toeskouers nie sommer vir wind en weer skrik nie.

“Dit was lekker daar en die feit dat die ouens bly sit het – selfs toe hulle natgereën het – wys net hoe lojaal die ondersteuners is. Die atmosfeer was elektries,” het Jordaan gesê.

Springbokke se tuistoetse:

6 Julie: Suid-Afrika teen Ierland op Loftus Versfeld

13 Julie: Suid-Afrika teen Ierland op Kingspark (kaartjiepryse begin by R350 en is beskikbaar vanaf 11 Maart by Ticketpro)

20 Julie: Suid-Afrika teen Portugal op die Toyota-stadion (kaartjiepryse begin by R350 en is beskikbaar vanaf 22 Maart by Ticketpro)

31 Augustus: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland op Ellispark (kaartjiepryse moet nog bevestig word)

7 September: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland op die DHL-stadion (kaartjiepryse moet nog bevestig word)

28 September: Suid-Afrika teen Argentinië op die Mbombela-stadion (kaartjiepryse begin by R150 en is beskikbaar vanaf 13 Maart by Computicket).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

Neeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeee! Sekerlik kan julle die SuperFans inpas vir net R1.4 miljoen?

SjN ·

Daar is seker klaar kaartjies gereserveer vir die 2 superfans wat toevallig op die lughawe was.

Niklaas ·

Moenie glo daars nou nog net 2 superfans tans nie. Die getal het intussen aangegroei tot 8 of 9 in totaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.