New Age kap terug oor Telkom-berig

Die New Age-koerant het Maandag kapsie gemaak teen gerugte dat die telekommunikasiereus, Telkom, een van sy grootste adverteerders is.

City Times het Sondag berig Telkom het tussen Desember 2011 en November 2012 sowat R34 miljoen bestee aan advertensies in die koerant. Lees meer hier.

“Dit is soortgelyk aan die neerhalende en rassistiese ingesteldheid van sommige van die opposisie- politieke partye wat impliseer dat senior bestuurders soos Pinky Moholi by Telkom, Brian Molefe by Transnet, Brian Dames by Eskom en ander persone wat semi-staatsinstellings bestuur, nie weet wat hulle doen nie. Hulle dink ook dat dié bestuurders nie hul koppe gebruik wanneer hulle hul begrotings bestee nie,” het Naeem Howa, die New Age se uitvoerende hoof, gesê.

“By implikasie sê die koerant hierdie mense en hul bestuurders is onbevoeg en korrup. Die koerant se storie is deel van ʼn poging om te bewys dat sedert swart mense beheer in die nuwe regering oorgeneem het, bestuurders van groot korporasies en semi-staatsinstellings korrup is,” het Howa gesê.

Maroela Media het vroeër berig Helen Zille het bekend gemaak dat sy ʼn versoek ingedien het vir ʼn geregtelike kommissie van ondersoek om die befondsing van The New Age te ondersoek. Volgens Zille het die regering sedert 2010 reeds R64,6 miljoen aan die koerant bestee in die vorm van advertensie-inkomste en borge. Zille het dit vergelyk met die sogenaamde “Infogate”-skandaal waar die koerant The Citizen tydens apartheid deur staatsfondse onderhou is. The New Age word deur die Gupta-familie besit en het heelwat politieke bande, onder meer met president Jacob Zuma.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.