New Age moet Zille om verskoning vra

Helen Zille

Johan Retief, die persombudsman, het gesê verslaggewers van The New Age-koerant was nalatig omdat hulle nie Helen Zille, leier van die Demokratiese Alliansie (DA), genader het vir kommentaar op verskeie beweringe in hul berigte nie.

Van die koerant se verslaggewers het onder andere berig dat die DA teen die transformasie in die media is, maar het nooit ʼn poging aangewend om kommentaar van Zille of DA-woordvoerders te verkry nie.

“Die versuim om kommentaar van enige party waaroor berig word te probeer kry, is teen die Perskode,” het Retief Saterdag in ʼn verslag gesê. “ʼn Publikasie moet gewoonlik alles in hul vermoë doen om kommentaar van iemand, waaroor berig word, te bekom voordat die berig gepubliseer word.”

Die koerant het onder andere in drie voorbladberigte beweer dat die DA en groot mediahuise saamgespan het om nuwe mediahuise, soos The New Age wat deur die Gupta-familie besit word en waarin die staat swaar belê met advertensies, asook plaaslike pers te ondermyn. Hulle het glo ook in ʼn opskrif na Zille verwys as ‘skynheilig’.

Die DA het die koerant ná die berigte by die persombudsman aangekla, waarna Pieterse bevind het die koerant moes Zille of haar kantoor genader het vir kommentaar.

Die ombudsman het beveel dat die koerant om verskoning moet vra omdat hulle versuim het om die DA vir kommentaar te nader. Die koerant moet ook Zille of die DA se kommentaar publiseer oor die aantygings dat hulle met gevestigde mediahuise saamgespan het, en glo die plaaslike pers ondermyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.