Niemand vervolg oor Fukusjima-kernramp

Fukushima

Fukushima

Japannese aanklaers het finaal besluit om niemand te vervolg oor die Fukusjima-kernramp nie, en omgewingsaktiviste het dadelik in woede reageer.

Die besluit kom in weerwil daarvan dat ‘n onafhanklike ondersoekkomitee in 2012 bevind het nalatigheid wat uit gebreke in die Japannese korporatiewe kultuur gebore is, die ramp veroorsaak het.

Die beslissing om nie te vervolg nie, kom slegs enkele dae voor die derde herdenking van die reuse aardbewing en tsunami wat Japan op 11 Maart 2011 getref het. Die skade aan die Fukusjima-kernkragaanleg was die tweede grootste kernongeluk in die wêreld se geskiedenis.

Hoewel die besluit pas geneem is om nie te vervolg nie, het die nuus reeds Saterdag uitgelek en tot reusebetogings gelei. Altesaam 15 000 mense wie se wonings en ondernemings deur die kernbestraling geraak is, het vroeër kriminele aanklagte gelê.

Die aanklaers het reeds voorheen besluit dat dit moeilik sal wees om kriminele nalatigheid te bewys, en alle appèlle teen daardie beslissing is nou van die hand gewys.

Bron: Telegraph

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.