Nieu-Seelandse rugbyspeler van verkragting verdink

Die Baby Blacks ná hulle Vrydag teen die Baba Bokke verloor het. Foto: Luke Walker/Gallo Images

ʼn Speler van Nieu-Seeland se o.20-rugbyspan, die Baby Blacks, word vermoedelik aan ʼn klag van groepsverkragting verbind.

ʼn 22-jarige vrou van Kaapstad het Saterdag beweer sy is Vrydagaand in ʼn hotelkamer deur ʼn groep mans verkrag ná die span hul wedstryd teen die Baba Bokke verloor het.

Kolonel Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, het aan die New Age gesê die vrou beweer sy is in ʼn hotelkamer verkrag. Die slagoffer kon egter nie haar verkragters uitwys nie, omdat sy niks van die voorval kan onthou nie.

ʼn Personeellid van die hotel het gesê dit wil voorkom of die vrou die rugbyspelers vroeër ontmoet en geweet het in watter hotelkamer hulle tuisgegaan het. “Ek vermoed die vrou bly naby die hotel. Volgens van my kollegas was sy onder die invloed van alkohol. Sy het haar ouers Saterdagoggend gebel en gevra dat hulle haar moet kom oplaai en dat sy verkrag is,” het die werknemer gesê.

Neil Sorensen, die hoof van Nieu-Seeland se rugby-unie (NZRU), het in ʼn verklaring gesê die hele span en bestuurders het hul volle samewerking aan die polisie gegee en dat die bewerings van verkragting slegs een speler raak.

“Na almal ondervra is, was die polisie tevrede dat al ons spelers Saterdag kon terugkeer huis toe. Sedertdien is die NZRU nog nie vir verdere navrae gekontak nie. As ons wel in verband met enige navrae gekontak word, sal ons ten volle saamwerk,” het Sorensen vanuit Nieu-Seeland gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.