Nigel-boer en vriendin vas vir veediefstal

ʼn Veeboer van Nigel, Martinus Jacobs (37), en sy vriendin, Riana Wheeler (27), is vroeër die week in hegtenis geneem nadat vermoedelik gesteelde bokke in hul besit gevind is.

Luitenant kolonel Metsi, ‘n woordvoerder van die Noordwes-polisie, het gesê die polisie in Lehurutshe het die paartjie en drie ander verdagtes in hegtenis geneem. “Die paartjie het vermoedelik gesteelde vee van hul kontakte in Lehurutshe naby Zeerust gekoop. Hulle is Dinsdag in hegtenis geneem terwyl hulle die vee met ʼn Toyota Quantum-paneelwa vervoer het. Hulle het Woensdag in die Lehurutshe-landdroshof verskyn,” het Metsi gesê. Die saak is uitgestel vir verdere ondersoek. Die paartjie bly in aanhouding totdat hulle weer in die hof moet verskyn.

“Die ander drie verdagtes by wie Jacobs vermoedelik die gesteelde vee gekoop het, is Woensdagmiddag in hegtenis geneem. Hulle moet Donderdag in dieselfde hof verskyn.” Die drie verdagtes se name mag nie bekend gemaak word alvorens hulle in die hof verskyn nie.

Die polisie het ʼn beroep op veeboere in die Ramotshere Moiloa-munisipaliteit-gebied gedoen om na vore te kom en aan te meld as hulle vee, veral bokke en skape, onlangs weens diefstal verloor het, asook om hul vee by die Lehurutshe-polisiestasie te gaan uitken. Volgens Metsi is tien sake van veediefstal sedert Mei in die gebied aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.