Nigerië en Suid-Afrika moet glo saamwerk

Goodluck Jonathan, president van Nigerië Foto: GCIS/SAPA

Goodluck Jonathan, president van Nigerië het Dinsdag samewerking tussen sy land en Suid-Afrika versoek om vrede en vooruitgang in Afrika te bevorder.

“Ons twee lande is in ‘n unieke posisie om die ganse Afrika na die beloofde land te lei waar armoede, ongelykheid, siektes, gemeenskaplike en interstaatskonflik hoofsaaklik iets van die verlede kan wees,” het hy, tydens sy eerste staatsbesoek, aan die parlement gesê. Hy sê die behoefte om saam te werk is ook duidelik in die behoefte om ‘n permanente setel vir Afrika in die Verenigde Nasies se sekuriteitsraad te bekom. “Indien Suid-Afrika en Nigerië nie dié taak aanpak nie, wie sal dit doen?” het hy gevra.

Jonathan het by Tuynhuys met Zuma vergader nadat die regerings nege ooreenkomste en ‘n memorandum van verstandhouding onderteken het om bilaterale samewerking te verstewig.

Bilaterale handel tussen Suid-Afrika en Nigerië het tot R36 miljard verhoog, maar die handelsbalans val egter steeds hoofsaaklik in die guns van Nigerië. Die memorandum van verstandhouding onderneem samewerking in, onder andere, verdediging, gaseksplorasie en kragsektorontwikkeling.

Nigerië en Suid-Afrika het ook ‘n ooreenkoms onderteken wat visum-vereistes vir diplomatieke paspoorte kwytskel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.