Nkandla: Polisie, betogers wat Zille verhoed, word nie vervolg

Die foto is destyds deur @Nontobek0Sibisi op Twitter gelaai.

ANC-lede en polisiebeamptes wat Helen Zille, die DA se leier, onlangs verhoed het om president Jacob Zuma se berugte Nkandla-tuiste te besoek, gaan nie vervolg word nie.

Moipone Noko, waarnemende direkteur van vervolging in KwaZulu-Natal, het bevind die KwaNxamalala-gemeenskap het toestemming gehad om naby die tuiste saam te drom, het The Times Donderdag berig.

“Daar was geen misdryf gepleeg deur enige van die lede van die gemeenskap nie. Hul byeenkoms is wettiglik deur hul tradisionele leier toegelaat, kragtens die KwaZulu-Natal Wet op Tradisionele Leierskap en Regering,” het Noko gesê.

Zille wou Nkandla in November besoek, maar moes terugkeer nadat sy met geweld gedreig is en die polisie haar vervolgens verhoed het om naby die tuiste te kom. Noko het gesê die polisie moet geprys word omdat hulle die situasie behoorlik hanteer het deur van almal se veiligheid seker te maak.

Die DA stem nie saam met haar bevindings nie en gaan hieroor met hul regspan vergader. Hulle oorweeg dit om te versoek dat die beslissing hersien moet word.

Lees ook:
Nuuskommentaar: “We are marching to Nkandla” – foefie, flater, benodig of briljant?
Zille gee Zuma 72 uur oor Nkandla
Polisie keer Zille om Zumaville te besoek
Baie polisie vir Zille se besoek aan Nkandla
ANC: ‘DA se besoek aan Nkandla soos apartheid’

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.