Nkandla-verslag uitgestel weens Mandela-begrafnis

Zuma-Nkandla-550‘n Inter-ministeriële verslag oor die sekuriteitsopgraderings by pres. Jacob Zuma se Nkandla-huis sal nie soos beplan, vandeesweek vrygestel word nie.

“Thulas Nxesi, minister van openbare werke en die ministers van die sekuriteitsgroepering sou Dinsdag die verslag by ‘n perskonferensie bekendgestel het,” het Phumla Williams, waarnemende woordvoerder vir die regering, gesê. “In die lig van die voorbereidings vir die staatsbegrafnis van voormalige president Nelson Mandela is die regering egter nie in staat om die verslag vandeesweek vry te stel nie.”

Die kabinet het Donderdag beveel dat die hoogs vertroulike verslag vrygestel moet word. Die besluit is aangekondig nadat die ANC Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, gekritiseer het oor wanneer sy die verslag oor die R206 miljoen opgradering by Zuma se huis in KwaZulu-Natal vrygestel het. “Ons het die voorstelle goedgekeur en gelas dat die verslag vrygestel moet word,” het kabinet verlede week in ‘n verklaring gesê.

Nxesi het die verslag vroeër vanjaar geklassifiseer en gesê dit kan Zuma se veiligheid in gedrang bring indien die verslag vrygestel word.

‘n Parlementêre komitee se bevindings het aangedui dat Zuma van alle blaam onthef moet word, nadat die komitee geen bewys kon kry dat belastingbetalers se geld gebruik is vir die privaatwoning nie.

Die Mail&Guardian het ‘n paar weke gelede berig dat Madonsela in haar voorlopige verslag bevind het dat Zuma die parlement mislei het en dat hy voordeel getrek het uit sowat R20 miljoen se werk wat niks met sekuriteitsopgraderings te doen gehad het nie, insluitend ‘n swembad. Dit het daartoe gelei dat die ANC Madonsela beskuldig het dat sy die verslag uitgelek het en haar aangesê het om die verslag dringend vry te stel.

Madonsela het die uitlek van die verslag veroordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elize Mans ·

Ja die wereld het tot stilstand gekom vanaf 6 Desember.Zuma sal natuurlik weer koning kraai na die verslag openbaar gemaak word.
Hulle is mos teen die gereg verhewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.