Nkandla-verslag vrygestel

Zuma se Nkandla-woning

Zuma se Nkandla-woning

ʼn Kabinetsminister het Donderdag daarop aangedring dat die sekuriteitsopgradering by pres. Jacob Zuma se privaatwoning in Nkandla, KwaZulu-Natal, noodsaaklik was.

“Die plattelandse ligging van Nkandla hou ʼn gevaar in,” het Thulas Nxesi, minister van openbare werke, aan joernaliste gesê. “Die gewelddadige geskiedenis van dié gebied in KwaZulu-Natal, die feit dat Zuma se woning en familielede al drie keer vantevore aangeval is, en die feit dat die president regeringsfunksies moet hou waar hy amptelike afgevaardigdes ontvang, het reuse sekuriteitsopgraderings vereis.”

Ministers van die veiligheidsgroepering het Nxesi ondersteun terwyl hy die taakspan se verslag oor die Nkandla-opgraderings vrygestel het. Die verslag sou al vroeër in Desember vrygestel word, maar dit is uitgestel. Die kabinet het daarna gelas dat die verslag vrygestel moet word.

Nxesi sê bewerings dat Zuma staatshulpbronne gebruik het, is ongegrond. Volgens Nxesi het Zuma nie die opgradering versoek nie.

“Die vereiste om sekuriteit vir huidige en voormalige presidente, te verskaf, bly die verantwoordelikheid van die regering. Die sekuriteit vir die staatshoof, adjunkpresident of hul familielede word nie voldoende in die ministeriële handboek aangespreek nie.”

Snoepie
Met verwysing na die omstrede snoepie, het Nxesi gesê die staat was verplig om dit weer te bou nadat dit geskuif is. “Die snoepie het lank voor die president ingehuldig is, al bestaan en is binne die drie hektaar terrein van die president geskuif. Weens die sekuriteitsrisiko van mense [klante] wat die snoepie besoek, moes die winkel geskuif word na die grenslyn van die perseel,” het Nxesi bygevoeg.

Bure ʼn sekuriteitsbedreiging
Nxesi het ook gesê bure rondom die woning is geskuif, aangesien hulle ʼn sekuriteitsbedreiging ingehou het. “Die naburige families moes geskuif word, aangesien hulle as ʼn sekuriteitsrisiko geag is.”

Beeskraal
“ʼn Hoenderhok is in die beeskraal opgerig om ʼn aantal strukture, wat oor die gebied versprei is, te vervang. Dié losstaande strukture was obstruksies en moontlike wegkruipplekke vir oortreders.”

Swembad
Ingenieurs van die departement van openbare werke het glo aanbeveel dat ʼn swembad, of “brand-swembad” gebou word vir brandbestryding, aangesien die huis ʼn grasdak het. Riah Phiyega, nasionale polisiekommissaris, het gesê daar is geen brandweer in Nkandla beskikbaar nie.

Volgens Nxesi sal die taakspan se verslag bewys dat geen staatsgeld gebruik is om die president se privaatwoning te bou nie.

Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, sal na verwagting in Januarie haar amptelike verslag vrystel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marelize ·

En die veiligheid van die land se inwoners, die klomp wat vir jou stem?

Renske Du Preez ·

Ag al die verskonings maak my siek,hy het na harte lus ons geld gespend,hy beter bedank as hy weet wat goed is vir hom

martin ·

Dit laat mens stik. Die spul is te dom om te besef dat almal nie so onnosel is soos hulle nie. Wonder of sy bure weet dat hulle so ñ gevaar v Zuma inhou. En so what as hulle by hom inbreek. Wys net hoe lieg hulle. Misdaad is dan glo aan die afneem. Mandela se huis lyk nie naastenby so nie en hy was duisend keer en meer belangriker as Zuma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.