Nuuskommentaar: Wat gaan dit nóg kos om regering oor plaasaanvalle te laat luister?

Volgens oorlewering het koningin Marié-Antoinette oor die honger gepeupel buite gesê: “As hulle dan nie brood het om te eet nie, laat hulle koek eet.” Toe rol haar kop – letterlik.

Toe Afriforum ‘n petisie oor plaasaanvalle aan die minister van polisie wou oorhandig, sê die minister Afriforum is besig met ‘n publisiteitsfoefie. Intussen het plaasmoorde nie opgehou nie, soos nog gister deur Maroela berig is.

Die leiers van politieke partye wat wél gereeld mediaverklarings oor plaasmoorde uitreik, en dit nié vir goedkoop publisiteit doen nie, moet diep delf om woorde te vind daarvoor om nie soos ‘n vasgehaakte plaat te klink nie. In Afrikaans is daar ‘n ryke verskeidenheid uitdrukkings om te sê iemand is gekoring of het streepsuiker gekry, maar vir plaasmoorde is daar maar een woord. Selfs die byvoeglike naamwoorde soos wrede, grusame en skokkende is voor die einde van Januarie elke jaar reeds “uitgeput.” Maar plaasmoorde en plaasaanvalle stop nie aan die einde van Januarie nie, en dit hou ook nie aan die einde van Desember van ‘n gegewe jaar op nie.

Die regering, die regerende ANC en ‘n paar politieke partye het duidelik nie ‘n probleem om woorde te vind nie, want hulle laat hulle amper nooit daaroor uit nie.

Die publiek sou waarskynlik erg ontgogel wees sou hulle weet wat dikwels agter die skerms aangaan – hoe plaasmoorde ‘n politieke skaakspel word.  ‘n Geskokte Wes-Kaapse provinsiale leier van ‘n klein opposisieparty wou sy party se nasionale stem oor plaasaanvalle laat hoor, en daag op by ‘n beraad van provinsiale leiers met die partyleier met ‘n reeds voorbereide verklaring oor ‘n plaasmoord in Noordwes die vorige nag. Die partyleier weier egter om die verklaring uit te reik omdat die ANC dan sê hy is ‘n meeloper van die witmense, en so haal ‘n mediaverklaring  Beeld waar die Wes-Kaapse leier hom oor ‘n plaasmoord in Noordwes uitlaat.

Kort hierna word die partyleier deur ‘n gewone lid gekonfronteer oor die party so min oor plaasaanvalle sê. Seepglad word dit die media se skuld: “Maar ons reik gereeld verklarings oor plaasaanvalle uit, dis die media wat dit nie dra nie.” Nodeloos om te sê die betrokke provinsiale leier is nie meer lid van die party nie.

Maar hoe lyk die aanbied van die boodskap, publisiteitsfoefie of nie, waarvoor die regering en ‘n aantal ander partye so doof is?

As Afriforum, wat van ‘n publisteitsfoefie beskuldig is, en plaasaanvalle saam ge-Google word lewer dit 17 400 trefslae op. Afriforum en plaasmoorde het 30 200 trefslae. Afriforum en plaasmoord het 34 900 trefslae, en Afriforum en farm murder 9 860. Daar is nog kombinasies in Afrikaans en Engels wat ingevoer kon word. Beeld se argief vir Afriforum en plaasmoord* lewer 47 trefslae op.

Maroela Media en plaasmoord lewer 2 280 Google-trefslae op, wat skrikwekkend baie is vir ‘n kuberkoerant wat net meer as ‘n jaar oud is. Voeg daarby nog trefslae wat die meervoud en ook plaasaanval en plaasaanvalle sou oplewer en die grusaamheid blyk duidelik.

“TLU SA” en plaasmoord lewer 12 100 Google-trefslae op. “Agri SA” en plaasmoord lewer 21 900 trefslae op.

In Beeld se argief lewer DA en plaasmoord* 93 trefslae op. In Volksblad is dit 175, en in Die Burger 64.

Omdat die Volksblad dikwels oor plaasmoorde berig, word vir die ander vergelykings net na dié koerant se beriggewing oor politieke partye se “aandeel” in plaasmoorde gekyk: ACDP en plaasmoord* 53 (almal provinsiale nuusverklarings), Vryheidsfront* en plaasmoord 36, Cope en plaasmoord* 25 en CDP en plaasmoord* 17 (laasgenoemde is nie in die wetgewer verteenwoordig nie en kry nie veel algemene nuusdekking nie, hoewel meer as in Beeld en Die Burger).

Word ‘n individu deur plaasaanvalle geraak, kan hy of sy ook heelwat Google-trefslae oplewer. Word die skrywer van hierdie nuuskommentaar se naam saam met plaasmoord ge-Google lewer dit 14 400 trefslae op. En saam met plaasaanvalle 12 100. Meer bekende name sal meer trefslae oplewer.

Voeg hierby dat talle gemeenskapsrdiostasies en –koerante nie aan die kuberruim gekoppel is nie, en dit skets vaagweg ‘n prentjie van hoe dikwels plaasaanvalle en plaasmoorde die nuus in die land – en ook die buiteland – haal.

Geen analis kan tot enige ander slotsom kom nie as dat die regering uiters traag is om die probleem by die naam te noem. Dit skep die indruk van werklikheidsvervreemding by minstens ‘n deel van die gemeenskap.

Kenners wys daarop dat die trauma wat die slagoffers van plaasaanvalle beleef dikwels erger is as “gewone” trauma, en word soms viktiminologie genoem. Hierdie vorm van trauma word dikwels in verband gebring met die gevoel van blootgesteldheid, soos weens die kwesbaarheid van plase, maar ook die gevoel dat die persoon in die steek gelaat is deur diegene wat hom of haar moes beskerm (soos die regering met die afskaffing van die kommando’s).

‘n Tipiese soort inset is wanneer ‘n dowe oor gedraai word vir dit wat moontlik is. Op die oomblik is die landbou onder geweldige druk om stukrag aan verskeie regeringsprojekte te gee, maar na verwagting gaan die minister van arbeid Maandag aankondig dat die minimumloon vir plaaswerkers tot R105 per maand verhoog word. Agri SA se dr. Theo de Jager wys  daarop dat dit tot sowat 100 000 werksverliese gaan lei, presies die teenoorgestelde as wat die Nasionale Ontwikkelingsplan beoog. Sekere bedrywe soos groenteboerdery sal na verwagting dan ter wille van oorlewing en Suid-Afrika se kosmandjie na buurlande moet verskuif.

En dit lyk onwaarskynlik dat van die emosioneel opgesweepte werkers wat op R150 per dag bly aandring tevrede sal wees met ‘n minimumloon van R105 per dag – al verhinder bloot ekonomiese werklikhede boere om meer as die minimumloon te betaal.

Boere in Suid-Afrika verloor voorts miljarde rande per jaar weens vee-, gewas- en gereedskapdiefstal, en ander soort plaasaanvalle soos brandstigting. Eskom probeer sy tariewe veel hoër as die inflasiekoers aanpas, wat op sy eie heelwat gevestigde boere uit die bedryf sal dwing, en beginnerboere feitlik geen kans op oorlewing bied nie.

Die ANC teer vir steun op populêre persepsies en dit besorg hom steun – maar dit skep ook onmoontlike verwagtings wat die regeertaak eintlik onmoontlik maak.

Met die wasmasjiene vir almal wat in 1994 beloof is wat nog nie opgedaag het nie, en koek wat omtrent tot ANC-verjaarsdagvieringe beperk is, raak die speelruimte vir nog beloftes sonder om ‘n Zimbabwe te trek bitter klein.

Maar so lank daar ‘n populistiese opvatting bestaan en selfs gevoed word dat selfs nog meer bloed uit die klip getap kan word, so lank, lyk dit, gaan die ANC hom doof hou vir die werklikhede daarbuite.

Want om op innoverende wyses te probeer om die regering se ver te kry om die werklikheid van plaasaanvalle  in die oë te kyk is mos ‘n publisiteitsfoefie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae