Noem jou kind sommer Mercedes of Brfxxccxxmnpcccclllmmnprxvclmnckssqlbb11116

Teen die aanvang van 2011 het die Pous uitgevaar teen ouers wat hul kinders na filmsterre, vrugte of gewilde sportmotors vernoem. In sy toespraak het hy ouers gemaan om eerder name wat “in die Christelike kalender opgeneem is” te gebruik.

Name soos Apple, Brooklyn en Ferrari is dus taboe, Francisco en Giulia is in.

Regoor die wêreld is name egter weens smaak, ordentlikheid of gewoonweg lawwigheid verbied. Hiermee Yahoo se lys van die gewildste “onwettige” name.

1) Talula does the Hula from Hawaii (Nieu-Seeland) 

Nieu-Seeland se regstelsel verbied babaname wat aanstoot kan gee aan enige “redelike” persoon. ʼn Paartjie in Nieu-Seeland wou hul babaseuntjie 4Real doop. Maar die ouers van ʼn 9-jarige dogter wat haar Talula does the Hula from Hawaii wou noem is in ʼn bewaringstryd van dié voorreg ontneem toe die regter bepaal het dat dit bespotlik sou wees.

Die regter het ook ander name aangedui wat reeds deur Nieu-Seeland afgekeur is: Fish en Chips vir ʼn tweeling, Yeah Detroit, Keenan Got Lucy en Sex Fruit. Die name Number 16 Bus Shelter en Violence is egter goedgekeur.

 2) Venerdi AKA Vrydag (Italië) 

In 2008 het die hof ʼn Italiaanse paartjie verbied om hul kind Venerdi (Vrydag) te doop, aangesien die seun glo aan ʼn spottery blootgestel sou wees. Sy ouers het egter gedreig om hul volgende kind Mercoledi (Woensdag) te doop.

In Turin is Andrea verwerp omdat dit glo ʼn seunsnaam in Italiaans is. Die dogtertjie is uiteindelik Emma gedoop. Dalmata is ook verwerp, aangesien dit glo na ʼn Dalmation-hond verwys.

 3) Brfxxccxxmnpcccclllmmnprxvclmnckssqlbb11116 (Swede) 

Bogenoemde is ʼn naam wat ʼn Sweedse paartjie aan hul seuntjie in 1996 wou toeken. Die naam word glo as Albin uitgespreek, en die ouers wou dit as protes teen die streng Sweedse naamwette gebruik. Owerhede in Swede moet eers name en vanne goedkeur voordat dit gebruik kan word.

Gewilde name in Swede wat al verbied is sluit Metallica, IKEA, Veranda en Q in. Google is egter goedgekeur.

4) Gesher AKA Brug (Noorweë) 

In 1998 is ʼn vrou twee dae tronkstraf opgelê toe sy nagelaat het om ʼn boete te betaal nadat sy haar seun met ʼn ongekeurde naam gedoop het. Kristi Larsen sê sy is in ʼn droom aangesê om haar seun Gesher (Hebreeus vir brug) te noem, maar die hof wou nie toestemming verleen nie.

5) Chow Tow AKA Onwelriekende kop (Maleisië)

In 2006 het die regering in Maleisië ʼn reeks name publiseer wat nie hul toestemming dra nie. Een van dié name is Chow Tow wat letterlik ʼn kop wat nie lekker ruik nie beteken. Ander Sjinese pogings is ook verbied soos Ah Chwar (slang), Khiow Khoo (boggelrug) en Sor Chai (mal).

 6) @ (Sjina)

Met meer as ʼn miljard inwoners is dit moeilik om ʼn unieke naam in Sjina te vind. Een paartjie het besluit om hul kind die @-simbool te noem. In Sjinese karakters lyk dit so bietjie soos lief vir hom. Die owerhede wou egter nie toestemming verleen nie en het dié naam gebruik as ʼn voorbeeld van burgers wat glo bisarre name in die Sjinese taal wou inbring.

 7) Miatt (Duitsland)

Duitsland het ʼn departement wat uitstluitlik babaname goedkeur (die Standesamt). Miatt is verwerp, aangesien dit nie duidelik is of dit ʼn seun of ʼn meisie is nie.

Stompie, Woodstock en Grammophon is afgekeur, maar Speedy, Lafayette en Jazz is goedgekeur.

 8 ) Anus (Denemarke)

In Denemarke kry die ouers ʼn lys met sowat 7 000 name wat reeds deur die regering goedgekeur is. Spesiale toestemming moet verkry word indien ʼn naam nie op dié lys verskyn nie en etniese name, eienaardige spelling en selfs saamgestelde vanne is verbode. Gelukkig vir dié kind is Anus een van die 250 name wat elke jaar verbied word.

 9) Ovnis (Portugal)

Portugal het ook ʼn 80-bladsy dokument wat deur die regering uitgegee word waarin ʼn lys van goedgekeurde babaname verskyn. Dit is redelik streng – Tomás word goedgekeur, maar nie Tom nie. Apple en Brooklyn  is afgekeur, maar Mercedes is goedgekeur.

Daar verskyn meer as 2000 name op die lys van name wat nie goedgekeur is nie, insluitend Ovnis wat Portugees vir Vlieënde Vreemde Voorwerp is.

10) Akuma AKA Duiwel (Japan)
In 1993 het ʼn Japanese ouer sy seun Akuma (letterlik duiwel) genoem. Na ʼn lang regstryd het die ouer ingestem om sy seun iets anders te noem.

Lees die oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paul ·

Wel, Ferrari is ‘n van, so waarom kan iemand nie “Ferrari” as noemnaam hê nie? Dis tog nie so ongewoon dat iemand ‘n van as noemnaam het nie.
Ook is “Giulia” die naam van ‘n Alfa-Romeo motor – dalk moet die Pous dan maar versigtig wees daarvoor ook. (Natuurlik was die naam eerste – dis nie deur Alfa-Romeo uitgedink nie.) So ook dra talle van Renault se motors vrouename, byvoorbeeld die Mégane en Clio.

Die opskrif van die berig is ook eintlik baie ironies, want “Mercedes” is ‘n gewone Spaanse meisienaam. Dit verwys na Maria. Die motorfirma “Mercedes-Benz” se naam kom van die handelsnaam vir die motors wat die Daimler-firma voor 1927 verkoop het. Die karre is vernoem na die dogter van een van die persone, Emil Jellinek, wat spesifikasies aan die Daimler-firma voorgelê het vir ‘n motor. Die naam het later deel geword van die firma “Mercedes-Benz” se naam.
Die motors se naam kom dus van die vrouenaam, nie andersom nie.

Marius ·

Heeltemal reg Paul. Wat die Alfa Romeo-storie betref: Is ‘Giulietta’ ook verbied? ;-)

Paul ·

Ek sou darem nie stry as hulle dalk “145” as ‘n naam wil verbied nie. Dit sou bietjie erg wees.

Op die punt van Alfas se nommer-modelname. Het jy geweet dat die Alfa-Romeo 164 in China as die 168 verkoop is. Dit is omdat die nommers 1, 6 en 4 in Mandaryns uitgespreek byna dieselfde klink as “Al die pad na die dood”, terwyl 1, 6 en 8 weer klink soos “Al die pad na voorspoed.”
Ek kan dink dat hulle nie ‘n “al die pad na die dood”-kar sou kon verkoop daar nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.