Nóg bewerings teen Phiyega

Phiyega. Foto: GCIS/SAPA

Phiyega. Foto: GCIS/SAPA

The Sunday Independent berig vandag dat opgeneemde telefoongesprekke tussen die nasionale polisiehoof Riah Phiyega en ʼn provinsiale polisiekommissaris aan die lig gekom het waarin sy hom glo ingelig het dat hy ondersoek word.

Volgens die berig het Phiyega vir lt.genl. Arno Lamoer, Wes-Kaapse polisiekommissaris, by drie verskillende geleenthede ingelig oor ondersoeke teen hom. Die oproepe is glo deur agente van misdaadintelligensie opgeneem nadat hulle Lamoer se foongesprekke begin monitor het te midde van bewerings dat hy betrokke is by ʼn Kaapse dwelmhandelaar en bekende sakeman. Phiyega het glo tydens een van die gesprekke vir Lamoer gesê daar is soortgelyke bewerings teen hom deur Anwa Dramat, hoof van die Valke. Volgens die berig het die Sunday Tribune na die opgeneemde telefoongesprekke geluister en is misdaadintelligensie glo woedend oor Phiyega se uitlatings en oorweeg hulle dit om kriminele klagte teen haar te lê.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het Vrydag bevestig dat hy ondersoek instel na klagtes van dwarsboming van die gereg teen Phiyega. The Star het Vrydag berig dat Phiyega glo ʼn senior polisiebeampte, wat glo deur ʼn krimineel omgekoop is, ingelig het dat hy deur misdaadintelligensie ondersoek word. Phiyega het egter ontken dat sy die beampte ingelig het en sê sy het bewus geword van die ondersoek nadat die DA ʼn vraag daaroor gevra het in die parlement. Phiyega het ook gesê dit is “interessant” dat die bewerings teen haar aan die lig gekom het kort nadat sy genl.maj. Chris Ngcobo, waarnemende hoof van misdaadintelligensie, op spesiale verlof geplaas het nadat daar teenstrydighede met sy kwalifikasies gevind is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

J D VAN ROOYEN ·

is snaaks hoe die kits bevorderings altyd iets wegsteek

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.