Nog drie boeties sterf in brand

Drie seuns het Woensdagoggend in Johannesburg doodgebrand. Dit bring die totaal kinders wat die afgelope maand in Gauteng weens brande dood is, op twaalf.

Volgens Robert Mulaudzi, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste, was die drie boeties tussen die ouderdom van 3 en 10 jaar oud. Hulle het doodgebrand toe ʼn brand in hul huis in Soweto omstreeks 01:00 uitgebreek het.

“Die kinders se ouers het ernstige beserings opgedoen en is na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal geneem,” het Mulaudzi gesê. Daar is nog nie vasgestel wat die brand veroorsaak het nie.

Op 12 Junie het twee sussies, ʼn 2 en 3-jarige, in hul huis in Montana Park, noord van Pretoria, doodgebrand. Later die dag het drie boeties by ʼn pleeghuis in Hartbeespoort omgekom ná die houthuisie waarin hulle geslaap het, aan die brand geslaan het. Die broers was onderskeidelik 7, 9 en 14 jaar oud.

Op 3 Junie is vier kinders van Randfontein dood as gevolg van ʼn huisbrand. Hulle was onderskeidelik 3, 4, 11 en 14 jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.