Nóg drie kinders brand dood

Nog drie kinders het gisteraand in ʼn brand naby Pretoria omgekom. Dit bring die dodetal in Gauteng tot op nege oor die afgelope twee weke.

EWN berig drie jong broers het Dinsdagaand by ʼn pleeghuis in Hartbeespoort omgekom na die houtstruktuur waarin hulle geslaap het, aan die brand geslaan het.

Stephanie Bentley, Harties Haven se eienaar, het gesê hulle gesin, wat 28 kinders in hul sorg insluit, kan nie glo wat gebeur het nie. “My dogter het my kom roep en geskreeu die wendyhuis is aan die brand. Twee vroue was reeds besig om die seuns te probeer uit kry, maar die struktuur het binne minute ineengestort,” het sy gesê.

Die broers was 7, 9 en 14 jaar oud. Hulle woon al vir ʼn jaar by die pleeghuis ná hul moeder oorlede is. Hulle laat ʼn 5-jarige sussie agter.

Dinsdagoggend het twee sussies, Chanté (2) en Marlene (3) du Toit, in ʼn huisbrand in Montana Park, in die noorde van Pretoria, doodgebrand.

Op 3 Junie is vier kinders van Randfontein dood as gevolg van ʼn huisbrand. Salome Jordaan (11), Tanya Jordaan (4) en Armand Dickson (3) het vroeg die Sondagoggend in die huisbrand omgekom en hul suster, Adri Jordaan (14), is 6 Junie in die Leratong-hospitaal oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nantie van Aswegen ·

My ouma Sofia Rautenbach (87) is gisteraand in n brand in Kogelpark aftree oord in Kleinmond oorlede. Die hele een vleuel van die aftreeoord het afgebrand. Daar is geen berig in enige koerant daaroor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.