Nog drie soek ná ‘bendeverkragting’

Die polisie is op soek na nog drie mans van ten minste 15 wat glo ‘n bendeverkragting op ‘n vrou naby Driefontein nommer 5-skag in Carletonville uitgevoer het.

Maroela Media het vroeër berig twaalf van die vermeende verkragters is Donderdag in hegtenis geneem. “Die drie mans word nog steeds gesoek, en die polisie volg elke leidraad,” het lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, gesê. Die 23-jarige vrou en haar vriendin was Woensdag oppad terug na hul huis in Mpahla Village, Carletonville, toe die onwettige myners hulle voorgekeer het. Die vrou is met ‘n knopkierie oor die kop geslaan voordat hulle haar na ‘n nabygeleë bos gesleep en ten minste 12 mans haar om die beurt verkrag het. Haar vriendin is ongedeerd gelaat.

Dlamini sê die mans het toe die vrou na ‘n huis geneem waar ten minste nog drie mans haar verkrag het. Sy het verskeie beserings op haar kop, gesig en liggaam opgedoen en is na ‘n hospitaal geneem.

Die 12 mans, wat glo onwettige myners van Lesotho is, sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Carletonville verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.