Nog een vermis ná winkelsentrum ineenstort

Foto: @crisismedDbn op Twitter

Foto: @crisismedDbn op Twitter

Een persoon word steeds vermis ná ʼn winkelsentrum in Tongaat, KwaZulu-Natal, wat nog in aanbou was, Dinsdag ineengestort het.

“Die polisie is in kennis gestel van een persoon wat vermis word,” het lt. Mandy Govender, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die polisie kan egter nie die moontlikheid uitsluit dat ander persone onder die puin begrawe is nie.”

Die winkelsentrum strek oor ʼn sokkerveld se grootte. ʼn Vrou is dood en 29 mense beseer nadat ʼn gedeelte van die gebou ineengestort het.

“Ons kan nie die moontlikheid uitsluit dat daar ander mense op die perseel was nie, maar slegs een kontrakteur het gesê dat hulle ʼn werknemer vermis,” het Govender gesê.

ʼn Hyskraan het Donderdag van die puin op die perseel verwyder terwyl lede van die polisie se soek- en reddingspan toegekyk het. Drie werkers was besig om pale rondom die perseel te plant sodat ʼn heining opgerig kan word.

James Nxumalo, burgemeester van eThekwini-munisipaliteit, het Woensdag aan verslaggewers gesê die ontwikkelaars en eienaars van die eiendom, Rectangular Property Investments, het nie aansoek gedoen om die winkelsentrum op te rig nie. Hy het gesê die konstruksie het voortgegaan sonder goedgekeurde bouplanne. Klik hier om meer te lees.

Gralio Construction, wat die winkelsentrum bou, en wie se werknemers in die voorval beseer is, kon nie vir kommentaar bereik word nie. “Ek het net opdrag ontvang om boodskappe te neem. Iemand sal na u terugkom,” het ʼn ontvangsdame gesê.

Abey Raspae, hoof arbeidsinspekteur van KwaZulu-Natal, het bevestig dat geen ander liggame tot dusver gevind is nie. Hy sê die departement is nie ingelig hoeveel mense nog vermis word nie.

Volgens Govender is ʼn saak van strafbare manslag oopgemaak. Sy sê dit is standaardprosedure wanneer iemand sterf. “Dit is nog te vroeg om te sê wie aangekla gaan word.”

Die winkelsentrum sou in Maart volgende jaar sy deure oopgemaak het.

Lees ook:
Glo geen goedgekeurde bouplanne vir Tongaat-winkelsentrum
Ondersoek ná winkelsentrum ineenstort
Minstens een dood, talle beseer na winkelsentrum ineenstort
Foto’s: 50 werkers moontlik in winkelsentrum vasgekeer

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mari ·

Hoe bou iemand ‘n winkelsentrum sonder goedgekeurde planne? Die betrokke departement gaan seker net weer skouers optrek en dom speel… Dis nie asof dit ondergronds gebou word nie! Die verantwoordelik van wat gebeur het moet tog alle kante toe verdeel word!

Demokraat ·

Dis sorgwekkend tot watter mate kontrole en die toepassing van bouregulasies by die betrokke owerheid ineengestort het. As die owerheid – en dis bevestig deur die uitspraak van die burgemeester – bewus was daarvan dat daar byvoorbeeld nie bouplanne goedgekeur was nie, hoekom is ‘n hofbevel nie bekom om die bouwerk te keer nie ?

Hierdie is net nog ‘n verdere bewys van die onbevoegdheid wat wyd in plaaslike sowel as op sentrale owerheidsvlak voorkom. Is die komende verkiesing dalk die geleentheid om stem uit te bring vir verandering ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.