Nog geen teken van ontvoerde diabeet

Tony Teixeira

“My dogter is in ʼn toestand, sy is nou al vir twee dae nie by die werk nie.” Dit is die woorde van Paul du Plooy, die voormalige skoonpa van Tony Texeira (47), wat Donderdag in Welkom ontvoer is ná ʼn rooftog. Texeira en sy verloofde, Ilona Combrink, is in die vroeë oggendure deur vier gewapende mans in hul huis in Naudéville aangeval. Hulle het gedreig om Texeira te skiet en het Combrink gedwing om aan hulle hul bankkaartkodes te gee.

Die mans het hul kaarte, elektriese goedere, juwele, drie selfone en kontant gevat waarna hulle Texeira met ʼn vuurwapen in sy eie voertuig, ’n wit Soyat-bakkie, gedwing en weggejaag het. Die rowers het hom glo ontvoer as losprys vir die regte kodes vir die bankkaarte. Combrink is vasgebind en met ʼn kombers toegegooi. Sy kon loskom toe die rowers vlug en het hulp ontbied.

“Ons het nog niks van en oor hom gehoor nie, nie ʼn woord nie,” het Du Plooy Vrydag aan Maroela Media gesê. Du Plooy se dogter, Retha Texeira, en eksman het nog gereeld kontak en is vriende. “Ons is bekommerd oor hom, hy is ʼn diabeet en kort medisyne,” het Du Plooy bygevoeg. Texeira moet glo 6-uurliks insulien kry, anders kan hy sterf of in ʼn koma gaan.

Kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die Vrystaatse polisie, sê ʼn uitgebreide soektog is nog onderweg na Texeira. “Ons kan bevestig dat Texeira nog nie opgespoor is nie en dat ons ook op soek is na die vier rowers,” het Thakeng Vrydag aan Maroela Media gesê.

Mense met inligting kan ao. Dylan Saayman by 082 301 3075 bel. Die bakkie se registrasienommer is DLR 364 FS en daar is ’n plakker van die Portugese landsvlag op die agterkap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

mina ·

Die gemors hoop hulle word gevang en toegesluit sonder dos en water

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.