Nog geen uitspraak oor leeu-plakkaat

Foto: Werner Beukes/SAPA

Uitspraak word voorbehou in ‘n aansoek om lughawensmaatskappy Acsa te oorreed om ‘n advertensieveldtog teen die handel in leeubeendere weer in te stel.

Regter Frank Bashall het Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof gesê hy hoop om binnekort ‘n uitspraak te lewer.

Die burgerregtegroep Avaaz het Acsa, ‘n publieke maatskappy, en Primedia, wat die advertensiespasie by die lughawe beheer, voor die hof gedaag in ‘n poging om die maandlange advertensieveldtog weer in te stel nadat dit onttrek is.

Stephen Budlender, vir Avaaz, het aan die hof verduidelik die advertensie is ‘n foto van ‘n leeuwyfie met ‘n vuurwapen in haar gesig met ‘n foto van pres. Jacob Zuma in die agtergrond. Die klinkreël lui: “President Zuma kan haar lewe red”. Die boodskap onderaan die foto lui: “Ons leeus word geslag om kamstige seksdoepas vir Asië te maak. Gaan president Zuma hulle red? Versoek hom om die dodelike handel in beendere nou te stop.”

“Ons het met olifante bewys die sleutel ding wat ‘n regering kan doen is om handeldryf onmiddellik te staak,” het Emma Ruby-Sachs, veldtogdirekteur vir Avaaz, buite die hof gesê.

Die presidensie en Zuma is nie respondente in die hofsaak nie.

Primedia sê hy sal die uitspraak respekteer.

Primeda is verlede jaar deur Avaaz gekontrakteer om die vervaardiging en plasing van die advertensie te hanteer, met vooraf goedkeuring van die inhoud deur sy prokureur. ‘n Petisie is ná die advertensieplasing aan Zuma gestuur met korrespondensie met sy kantoor.

Die hof het gehoor dat die jongste statistiek deur die regering toon dat uitvoere in leeubeendere tussen 2008 en 2010 met 250% toegeneem het.

Toe ‘n joernalis toestemming gevra het om die advertensie af te neem, het Solomon Makgale, kommunikasiebestuurder van Acsa, voorgestel dat toestemming nie gegee moet word nie, en dat foto’s van die advertensie nie verskaf moet word nie, en dat die joernalis eerder na Primedia verwys moet word. Hy het destyds ook Tebogo Mekgoe, voormalige adjunk algemene bestuurder, versoek om ‘n kort verklaring uit te reik waarom die advertensie nie toegelaat moet word nie, en hom gevra hoe hy die situasie hanteer moes word. Mekgoe het gesê daar is ‘n “uitdruklike boodskap” dat Zuma medepligtig is aan die sterftes en dat hy besorg is oor ‘n “skakelwese nagmerrie”.

Acsa het ná ‘n uurlange vergadering Primedia aangesê om die advertensie te verwyder, sonder om met Avaaz in verbinding te tree, en die advertensie is gevolglik op 16 Augustus verwyder.

Avaaz voer aan dit kom neer op kontrakbreuk van Primedia, dit is ‘n breuk in die grondwetlike reg tot vryheid van uitdrukking en die grondwetlike reg tot administratiewe aksie kragtens die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid. Budlender sê Acsa het ‘n grondwetlike plig om die vryheid van uitdrukking te beskerm en dat die advertensie nie op enige manier onwettig is nie.

Acsa voer aan hy het binne sy regte opgetree, aangesien die advertensie nie “goed vir die land se beeld” is nie. Veertig foto’s van ‘n jaggeweer wat aggressief op ‘n leeuwyfie gerig word is glo onvanpas, aangesien die land reeds ‘n negatiewe beeld het weens sy hoë misdaadvlakke. “Dit kan die beeld, dat Suid-Afrika ‘n gewelddadige plek is, bekragtig, en dit is nie tot voordeel van toerisme nie en nie in pas met Suid-Afrika se handelsmerk nie,” het Anthony Sawna SC, vir Acsa, gesê. “Talle mense wat in die land aankom kan nie noodwendig lees of die boodskap van die advertensie verstaan nie.”

Sawna se kollega, Kate Hofmeyr, het egter aan die hof gesê Acsa aanvaar dat sy besluit Avaaz se reg tot uitdrukking beïnvloed het. “Veertig foto’s op vier kante van 10 pilare by die internasionale aankomssaal verteenwoordig nie die beste beeld van die land nie,” het Hofmeyr gesê. “Die besluit is nie deur een persoon geneem nie, maar deur vier mense ná ‘n uurlange vergadering. Acsa was rasioneel en billik in sy poging om Suid-Afrika as handelsmerk te beskerm.” Sy sê Avaaz het ook ander moontlikhede om hulself uit te druk, byvoorbeeld die internet.

-SAPA

Lees ook:
Leeu-advertensie nou hof toe

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.