Nóg kragonderbrekings vir Alberton verwag

Skakelaars by die substasie in Alberton.

Inwoners van Alberton, oos van Johannesburg, kan binnekort nog kragonderbrekings verwag.

Sam Modiba, woordvoerder van die Ekurhuleni-munisipaliteit, sê daar sal na verwagting van Sondag af weer kragonderbrekings voorkom. Talle gebiede in Alberton was verlede week vir vyf dae of langer sonder elektrisiteit. Modiba sê die kragonderbrekings is weens die opgradering van die Truidaweg-substasie, wat glo teen die einde van Maart voltooi sal wees. “Dit is ʼn reuse projek wat dringend moet voortgaan indien ons dieselfde situasie as verlede week wil verhoed. Terwyl daar onderbrekings gaan voorkom, het ons dit op so ʼn manier beplan dat inwoners so min as moontlik verontrief sal word.” Modiba sê die volgende kragonderbrekings sal tussen Sondagaand 20:00 en Maandagoggend 5:00 voorkom. Die areas wat moontlik geraak gaan word, is die Alberton middestad, Verwoerd Park, Florentia, New Redruth en South Crest. Modiba het byvoorbaat om verskoning gevra vir die ongerief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.