Nóg ʼn aanval in Muldersdrift

Daar was nog ʼn wrede aanval Donderdagaand in die Muldersdrift-omgewing waar ʼn huiseienaar drie keer tydens ʼn gewapende roof op sy kleinhoewe geskiet is.

Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het Vrydag aan Maroela Media gesê die man is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal. “Drie gewapende mans het sy huis omstreeks 18:00 binnegestorm en geld, selfone en klere geëis. Hulle het die huiseienaar in die nek geskiet voor hulle van die toneel gevlug het,” het Dlamini gesê.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof en poging tot moord.

Buiten dié voorval het minstens sewe slagoffers die afgelope paar maande onder ernstige geweld in die omgewing deurgeloop.

Die 46-jarige Keston Samuel Banda is op 30 November doodgeskiet. Op 17 November is die 51-jarige Jacques Botha op ’n hoewe in Elandsdrift vermoor. Ook in November is Kirstie Adams (27) in haar huis in Elandsdrift geskiet. Haar ouma is drie maande vroeër in dieselfde huis aangerand. Alyssa Botha (13) en André Jordaan (50) is in September in twee afsonderlike rooftogte doodgeskiet.

Dlamini sê daar is reeds vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met sommige van dié oortredings. “Die mans is in Diepsloot aangekeer. Ons hou ook binnekort uitkenparades met verdagtes wat aangekeer is om te bepaal of hulle aan dié misdade verbind kan word,” het Dlamini gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.