Nog ʼn fabriek brand in noorde van PTA

Foto: ER24

ʼn Brand het Sondag by nog ʼn fabriek in die noorde van Pretoria uitgebreek.

Johan Pieterse, die woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, sê die brand het laatmiddag by ʼn houtlamineringsfabriek in Waltloo uitgebreek.

“Die brandweer was omstreeks 17:00 op die toneel. ʼn Gedeelte van die fabriek se dak het reeds ingetuimel. Die hele dak het kort daarna ingegee, wat toegang toe die brand vermoeilik het,” het Pieterse gesê.

Die brand is egter gou onder beheer gebring, maar die gebou het deur die aand gesmeul as gevolg van al die hout wat daarin was.

Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie. Niemand is tydens die voorval beseer nie.

Maroela Media het op 24 Oktober berig vier geboue is vernietig ná ʼn ontploffing by ʼn chemiese fabriek in Rosslyn. Die fabriek herwin ou olie om nuwe olie van te maak. Daar was glo ʼn probleem met ʼn verbrander wat 44 galondromme vol olie laat ontplof het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.