Nog ‘n kind brand dood

‘n 4-jarige seuntjie het Dinsdagoggend in ʼn huisbrand in Theresapark, in die noorde van Pretoria, omgekom.

Dit wil dit voorkom of die brand vroeg Dinsdagoggend in die huis uitgebreek het en dat die kind alleen in die huis was omdat sy pa sy ma by die werk gaan aflaai het. Volgens Jeffrey Wicks, ʼn woordvoerder van Netcare911, kan die oorsaak nog nie bepaal word nie en word die voorval deur die polisie ondersoek.

Die Tshwane-brandweer het die brand onder beheer gebring. Die seuntjie is onherkenbaar verbrand.

Dertien kinders het al die afgelope tyd in Gauteng in huisbrande omgekom.

Op 20 Junie het drie boeties tussen die ouderdom van 3 en 10 jaar oud in hul ouerhuis doodgebrand na hul pa glo die huis in Soweto aan die brand gesteek het.

Op 12 Junie het twee sussies, ʼn 2 en 3-jarige, in hul huis in Montana Park, noord van Pretoria, doodgebrand. Later die dag het drie boeties by ʼn pleeghuis in Hartbeespoort omgekom ná die houthuisie waarin hulle geslaap het, aan die brand geslaan het. Die broers was onderskeidelik 7, 9 en 14 jaar oud.

Op 3 Junie is vier kinders van Randfontein dood as gevolg van ʼn huisbrand. Hulle was onderskeidelik 3, 4, 11 en 14 jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.