Nog ʼn kunstenaar ontbloot Zuma

Ayanda Mabulu. Foto: Michael Hammond / Rapport

President Jacob Zuma se privaatdele is weer in die publieke oog nadat ʼn omstrede kunstenaar, Ayanda Mabulu, dit Maandagaand by ʼn kunsuitstalling in Kaapstad onthul het.

Die skildery getiteld, Umshini Wam, is deel van die kunsuitstalling, Our Fathers, wat Maandagaand by die AVA-galery in Kaapstad geopen het. Mabulu se skildery van Zuma beeld hom in tradisionele gewaad uit met sy privaatdele wat uithang (sien die skildery onderaan dié artikel).

Vroeër vanjaar het die kunstenaar Brett Murray se kunswerk, The Spear, in Mei internasionale nuus gemaak. Die uitstalling van dié skildery het tot betogings teen die Johannesburgse Goodman Galery gelei. Dit moes later uit die galery verwyder word. Foto’s daarvan moes ook van die City Press se webwerf afgehaal word. Die rolprent- en publikasieraad het ook ʼn ouderdomsbeperking van 16 op die kunswerk geplaas. Van Murray se werke word ook in Our Fathers uitgestal.

Mabulu voer aan dat Zuma nie kaal is nie. “Ek het hom met ʼn besnyde penis geskilder. Dit is ʼn metafoor wat wys dat hy nie meer ʼn seun is nie. Hy is ʼn man, ʼn ouer, ʼn vader en ʼn leier,” het Mabulu gesê. “In die skildery vra ek met respek, as een van sy kinders, hoekom my vader ons uithonger. Waarom ontken hy sy pligte aan sy kinders, die burgers van Suid-Afrika?” het hy gesê.

Nog ʼn skildery van Mabulu het tydens die Spear-debakel vrae laat ontstaan oor hoekom daar nie teen sy skilderye opgetree word nie. Veral een van sy skilderye, Ngcono ihlwempu kunesibhanxo sesityebi (Eerder arm as ʼn ryk handpop), beeld verskeie leiers, waaronder aartsbiskop Desmond Tutu, in omstrede posisies uit (sien skildery onderaan dié artikel).

Die skildery Ngcono ihlwempu kunesibhanxo sesityebi. (Foto gesensor)

Die skildery Umshini Wam

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andrew Olsen ·

Ek moet eerlikwaar erken dat die simboliek in “Ngcono ihlwempu kunesibhanxo sesityebi” asemrowend is! Nie omdat daar twee kaalmense verskyn of die ou Oranje Blanje Blou gewys word nie. Uit ‘n estetiese oogpunt is dit absoluut fantasties, maar naatuurlik sal sekere groepe suurknolle weer ‘n eiertjie moet in armbeurs werp en alles besmeer en beledig.

Hoekom kan ons nie soos ander mense in die wereld verby ons eie kleinlikhede kyk en sien wat om ons aangaan nie? Die kunstenaar – hetsy skilder, beeldhouer, musikant, skrywer of watter derglike rigting ookal, is en bly immers die volk se gewete… En sonder die gewete kan ons maar net sowel, ook alles prysgee.

Respekteer ons kunstenaars vir eens en besef dat Suid-Afrika ook met die res van die wereld kan meeding op meer as net prentjies en kuns…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.