Nóg ‘n Lonmin-slagoffer by Marikana

Stakende mynwerkers by Lonmin Foto: Taurai Maduna, EWN

Nóg ‘n liggaam is Dinsdag by Lonmin se myn in Marikana in die Noordwes opgespoor.

Die man het op sy gesig gelê en het twee diep snywonde aan die agterkant van sy kop gehad. Die man, wat in swart geklee was, was ‘n paar meter weg van waar stakende mynwerkers gedurende die dag vergader het. Dit is nog nie duidelik wanneer die man dood is nie. Die aantal persone wat reeds tydens dié gewelddadige aksie gesterf het, staan nou op 45. Ten minste 34 mense is dood toe die polisie op 16 Augustus op die stakende werkers losgebrand het. Rotsbooroperateurs by die myn staak reeds sedert die begin van Augustus en dring aan op ‘n salaris van R12 500 per maand.

Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het Dinsdag in Rustenburg met verteenwoordigers van Lonmin vergader. “’n Vergadering is by die KVBA se kantoor in Rustenburg gehou. In dié stadium kan ons nog nie die inhoud van die vergadering bekend maak nie,” het Nersan Govender, woordvoerder van die KVBA, gesê. Loononderhandelings het Maandag platgeval toe minder as 7% van die werknemers vir werk opgedaag het. ‘n Vredesverdrag wat verlede week deur drie vakbonde, wat sowat 28 000 werknemers verteenwoordig, geteken is, het bepaal dat loononderhandelings slegs kan voortgaan indien werknemers weer terugkeer werk toe.

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het nie die vredesverdrag onderteken nie, maar het wel Maandag vir die loononderhandelinge opgedaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.