Nog ʼn moord in Middelburg-omgewing

ʼn Bejaarde vrou is Vrydagaand beroof en wreed vermoor in die Middelburg-omgewing, Mpumalanga, skaars twee dae na ʼn vrou ook in dié gebied ontvoer, beroof en vermoor is.

Die bejaarde vrou, Julie Cruse (72), is Vrydagaand deur rowers met ’n strykyster op die maag en met kook­water op haar bene gebrand voordat sy vermoedelik doodgewurg is. Sy was die eienaar van ’n drankwinkel op Pullens Hope, net buite Middelburg. ’n Serp wat styf om haar nek gebind was, is ’n aanduiding dat sy moontlik doodgewurg is. Cruse het alleen gewoon en die rowers het haar by haar huis ingewag na sy Vrydagaand die winkel gesluit het. Na wat verneem word, het die aanvallers R5 000, parfuum, dameskoene en ’n goue ketting gesteel. Sy laat haar eksman, Ron, en drie kinders, Debbie, André en Tanya, asook ʼn kleinkind, Gerhard, agter.

Igna Nortjé (33) is Woensdag naby Verene, ook buite Middelburg, vermoor. Sy is sy vroeër die dag in Middelburg ontvoer. Nortjé, ʼn oudioloog, se liggaam is later die dag ʼn paar meter van haar verlate voertuig gevind. Sy het verskeie steekwonde, onder meer aan haar keel, gehad. Rowers het drie keer deur die dag geld uit haar bankrekening onttrek. Sy laat haar man Riaan en 8-jarige dogter, Mia, agter.

Volgens Kolonel Leonard Hlathi, woordvoerder vir die Mpumalanga-polisie, is dit nog nie duidelik of die twee voorvalle verbind kan word nie. Hy het gesê niemand is nog vir enige van die twee voorvalle in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.