Nóg ‘n polisieman in Oscar Pistorius-saak bedank

Oscar Pistorius Foto: ryanseacrest.com

Oscar Pistorius Foto: ryanseacrest.com

Kol. Schoombie van Rensburg van die polisie, wat beheer geneem het van die misdaadtoneel nadat Oscar Pistorius glo sy vriendin Reeva Steenkamp, doodgeskiet het, het bedank, het die Sunday Times berig.

Verskeie polisiebeamptes het aan die koerant gesê Van Rensburg, bevelvoerder van Boschkop-polisiestasie, was onder geweldige druk weens die brouwerk by die misdaadtoneel.

Die Sunday Times het bekend gemaak dat ʼn noodsaaklike bewysstuk, die badkamerdeur waardeur Pistorius vir Steenkamp geskiet het, onverklaarbaar in Van Rensburg se kantoor gehou is. Die deur was glo vir ʼn week lank in die kantoor ná die skietvoorval op 14 Februarie 2013. Polisie-protokol vereis dat bewysstukke in ʼn veilige stoorkamer gehou moet word.

ʼn Polisiebeampte, wie se naam aan die Sunday Times bekend is, het gesê die deur is ʼn dag ná die skietery uit Pistorius se huis in Silver Woods Estate, in die ooste van Pretoria, verwyder. “Die deur was bedek met ʼn lyksak, plastiekkabels en kleefband. Dokumente by die Boschkop-polisiestasie toon dat dit by SAPS 13 [stoorkamer] ingeboek is, maar dit is in Van Rensburg se kantoor gehou,” het die beampte aan die Sunday Times gesê. “Om die waarheid te sê, dit het op die vloer voor sy lessenaar gelê en is eers ʼn week later verwyder.”

Volgens die beampte het enigiemand in die polisiestasie in daardie stadium toegang gehad tot Van Rensburg se kantoor, en hulle het fakse vandaar gestuur en telefoonoproepe uit dié kantoor gemaak.

Van Rensburg, wat vir langer as 30 jaar lank in die polisie was, ontken dat sy bedanking verband hou met die saak en sê dat hy die polisie verlaat om sakebelange na te volg.

Van Rensburg is die tweede polisiebeampte van Boschkop-polisiestasie wat bedank sedert die skietery. “My besluit het niks te doen met die Oscar-saak nie, en ek kan dit nie bespreek nie, aangesien die saak nog in die hof moet voorkom,” het hy aan die koerant gesê.

Die oorspronklike ondersoekbeampte, Hilton Botha, het bedank nadat Pistorius se verdedigingspan hom verneder het tydens die aansoek om borgtog. Adv. Barry Roux het Botha gekritiseer oor sy gedrag by die misdaadtoneel insluitend dat hy nie beskermende bedekking oor sy skoene aangetrek het nie.

Botha is ook aangekla van poging tot moord. Die polisie het bevestig dat sewe aanklagte van poging tot moord nog hangende is. Botha het in 2011 glo skote op ʼn minibustaxi gevuur terwyl hy die voertuig wou aftrek. Sewe mense was in daardie stadium in die taxi.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vraag ·

Speel geld nie dalk hier ‘n rol nie. Oscar se tyd raak min, hy hoort ook in die tronk soos alle ander vermeende moordenaars.

susan ·

Nee hier weet ek dat geld nie n rol speel nie. Ek dink na 30 jaar soek mens ander uitdagings.

Vraaag ·

Susan jy weet in vandag se lewe kry ‘n Blanke man nie werk nie. Hoe gee iemand ‘n werk op? Dit nog op sy ouderdom?

Hettie Lotz ·

Julle meisies is darem vinnig om te oordeel. Wag tot julle die ware feite het.
Klink my julle het te veel tyd ophande

At ·

Ek stem saam met jou Hettie, hulle klink soos vervelige ouvrouens wat by die huis sit met niks om te doen nie nou dink hulle almal daar buite is kriminele, sies man.

Renate Barnard ·

Ek ken vir Schoombie van Rensburg persoonlik vir baie jare deurdat ons saam by die Nasionale Inspektoraat gewerk het. Ek het hom leer ken as ‘n man van integriteit en inbors. Dit is baie jammer dat ervare polisiebeamptes die Diens verlaat, maar nog jammerder dat mense sommer dadelik hul eie afleidings maak deur te insinueer dat hy omgekoop is.

Maxi ·

Stem 100% saam Renate, ek kan jou amper waarborg dat die klomp wat so strooi praat, ‘n klomp lelike geraamtes in die kas het. Klomp “low class” blankes wat op die agter stoep sit en bollie praat (rook) Sies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.