Nóg ‘n ‘rasvoorval’ by Virgin Active

ʼn Swart man beweer ʼn wit man het op hom gespoeg by die Virgin Active gimnasium in Hatfield, Pretoria.

City Press berig dat Brian Maluleke (23) nou bang is om weer na die gimnasium te gaan sedert die voorval wat glo Dinsdag plaasgevind het. “Ek het begin oefen toe ek voel daar drup iets teen my oor af. Ek het besef die wit man langs my het pas op my gespoeg. Ek het hom gevra hoekom hy op my gespoeg het waarna hy ongeskik geantwoord het: Jammer ou dit was ʼn ongeluk, ek het probeer om ʼn gewig op te tel.” Maluleke sê die ander mense het niks gedoen om te help nie. “Ek was verneder en bang. Ek was die enigste swart persoon daar en het nie verstaan wat besig was om te gebeur nie.” Volgens die berig het Virgin Active se besturende direkteur, Ross Faragher-Thomas, om verskoning gevra vir die voorval en die man se gym lidmaatskap opgeskort. Faragher-Thomas sê hulle het ook vir berading betaal vir die Maluleke aangesien hy glo sukkel om te slaap sedert die voorval en nog nie weer by die werk was nie. Lees meer hier.

Dit is die soveelste beweerde ‘rasvoorval’ by die Virgin Actvie-groep die afgelope ruk. Vroeër die maand het ʼn vrou van KwaZulu-Natal ʼn nag agter tralies deurgebring nadat sy glo ʼn rassistiese aanmerking gemaak het teenoor ʼn man by ʼn Virgin Active in Richardsbaai. Verlede maand het ʼn vrou beweer dat ʼn medelid by ʼn Virgin Active-gimnasium aanstoot geneem het deur haar entoesiasme tydens ʼn spinfiets-klas en haar ‘n “verdomde k*****, ‘n kakkerlak en ‘n selfsugtige teef” genoem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.