Nóg ‘n SA-fietsryer erken hy het verbode middels gebruik

David George

Die fietsrykampioen, David George, het Dinsdag erken dat hy die verbode middel, eritropoïetien (EPO) gebruik het en dat hy bereid is om die gevolge te dra.

“Ek gaan nie ‘n B-toets versoek nie, aangesien ek weet dat die uitslag dieselfde gaan wees,” het George in ‘n verklaring gesê. “Ek verstaan ten volle die gevolge van my erkenning.”

George het op 29 Augustus in ‘n buitekompetisie-toets deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (SAIDS) positief getoets vir EPO.

“Ek vra om verskoning aan al my borge wat my alle geleenthede gebied het om ‘n droom na te jaag, en my spanmaats wat ek respekteer. Ek sal poog om dit reg te stel sover dit in my menslike vermoë is,” het George bygevoeg.

George is een van Suid-Afrika se top fietsryers; hy het al aan die Olimpiese Spele deelgeneem, was ‘n podium-wenner in die Cape Epic, en ‘n voormalige spanlid vir Lance Armstrong in die Verenigde State se Posdiens-fietsryspan in 1999 – 2000.

EPO is ‘n hormoon wat die rooibloedseltelling verhoog en die atleet se suurstofvermoë verhoog en dus sy prestasie verbeter. “Die dwelm is veral voordelig in uithousportsoorte waar atlete oor ‘n lang afstand moet deelneem soos fietsry, hardloop en driekamp,” het Khalid Galant, hoof uitvoerende beampte van SAIDS gesê. “Ons het die sportgemeenskap verlede jaar gewaarsku dat ons top atlete se bloed en urine deeglik gaan toets. Ons sal volhard om EPO-gebruikers te teiken.”

George is met onmiddellike effek geskors en mag nie aan enige byeenkoms deelneem terwyl die SAIDS-proses aan die gang is nie, het William Newman, president van Fietsry SA bevestig. “Ons respekteer die onafhanklikheid van die SAIDS-proses en sal die uitkoms respekteer. Fietsry SA stel dit weer duidelik dat ons geen dwelmmiddels in sport gaan duld nie en bevestig dat daar nie bewyse is dat dit ‘n endemiese probleem in die sport in Suid-Afrika is nie.”

Nedbank het intussen hul borgskap aan hul professionele span, Team 360Life, waarvan George ‘n spanlid was, onttrek. “Die skorsing van die span sal voortduur tot verdere kennisgewing,” het Tabby Tsengiwe, woordvoerder vir Nedbank, gesê. Sy sê Nedbank duld geen gebruik van verbode middels of prestasiebevorderingsmiddels nie en ondersteun SAIDS, Fietsry SA en Union Cycliste International om ‘n skoon gedrag in die sport te bevorder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.