“Nog ‘n sinnelose moord in SA”

Die voormalige Namibiese en Suid-Afrikaanse krieketspeler, Louis Vorster, is glo Dinsdag in Muldersdrift aan die Wes-Rand doodgeskiet.

ʼn Polisiewoordvoerder, lt. kol Tshisikhawe Ndou, sê ʼn 46-jarige man het Dinsdagmiddag ʼn vulstasie verlaat toe twee mans in ʼn Volkswagen sy weg geblokkeer het. Een van die aanvallers het na bewering na die bestuurskant se venster geloop en hom doodgeskiet terwyl die ander aanvaller na die passasierskant is waar hy ‘n pakkie gegryp het voor hulle op die vlug geslaan het. “Hy is op die toneel dood verklaar.” Ndou sê hulle ondersoek ʼn saak van moord. Hy kon egter nog nie bevestig of die persoon wat vermoor is, wel Vorster is nie. Krieketspelers en bekendes het intussen medelye gebring aan Vorster op die sosiale netwerk Twitter. Albie Morkel het geskryf: “Vanaand huil ek soos ʼn baba. Het ʼn goeie vriend verloor. RIP Louis Vorster …#nog’nmisdaadslagofferinSA!” PatSymcox get geskryf: “Louis Vorster, voormalige krieketspeler, vermoor buite PTA!sooo hartseer. Wat ʼn vriendelike ou.” Jacques Rudolph het geskryf: “Nog ʼn sinnelose moord in SA…RIP Louis Vorster.” – SAPA

Volksblad berig intussen dat Vorster helder oordag deur vier rowers in ’n fyn beplande aanval koelbloedig doodgeskiet is. Volgens die berig het Vorster gistermiddag by die Total-vulstasie net verby die Lanseria-afrit op die N14-snelweg tussen Krugersdorp en Pretoria stilgehou om ’n paar goedjies by die kitswinkel te koop. Hy is glo drie keer geskiet. ’n Kennis van Vorster wat op die toneel was, het na verneem word aan personeel van die vulstasie gesê hy vermoed dat Vorster ’n pakkie met diamante by hom gehad het. Die polisie wou dit nie bevestig nie. Die kennis het gesê die diamante is moontlik die rede vir die sluipmoord. Vorster het sy eersteklas-krieketloopbaan in die 1985-’86-seisoen begin en vir onder meer Namibië, Matabeleland, Transvaal, Noord-Transvaal, Noordwes en Worcestershire in Brittanje gespeel. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.