Nóg ‘n skoolskietery in Amerika

Karl Pierson

Karl Pierson

Een tiener is gewond en een het ligte beserings opgedoen nadat ‘n medeskolier Vrydag by Arapahoe High School in Denver in Colorado, Amerika, met ‘n haelgeweer op hulle losgebrand het en toe selfmoord gepleeg het.

Die skoolseun se motief was glo uit wraak vir ‘n onderwyser.

Dié skietery is op die vooraand van die herdenking van die massamoord by ‘n Newtown-skool waar 20 skoliere en ses onderwysers vermoor is.

Die polisie het vinnig die skool, met sy 2 220 leerlinge, omring na die skietery omstreeks 12:30 plaasgevind het.

‘n 15-jarige skolier is geskiet en is in ‘n kritieke toestand by Littleton-hospitaal. ‘n Ander skolier is ‘n paar ure ná die skietery uit die hospitaal ontslaan.

Karl Halverson Pierson (18), die gewapende student, het ook twee petrolbomme na die skool gebring, en een laat ontplof, het KUSA-TV berig. Die ander petrolbom is opgespoor en die polisie se bomeenheid het daarvan ontslae geraak.

Pierson het uit die parkeergebied die skool betree en aan sy medeskoliere gesê hy het ‘n appeltjie te skil met ‘n spesifieke onderwyser. Die inligting het soos ‘n veldbrand versprei en die onderwyser het die perseel ongedeerd verlaat.

Talle studente het hulself in klaskamers toegesluit totdat die polisie opgedaag het.

Die skoliere het omstreeks 13:30 op die atletiekveld bymekaargekom en hul ouers het hul by die Shepherd of the Hills Lutheran-kerk ontmoet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.