Die voormalige Springbok-rugbyspeler, Tinus Linee, is ook gediagnoseer met motorneuronsiekte waaraan Joost van der Westhuizen ly.
“Hy is baie positief en kan sy eie klere aantrek, bestuur en eet. In hierdie stadium word net sy spraak aangetas en hy loop stadig,” het sy vrou, Diana, aan Beeld gesê.
Volgens Diana is hy in die middel van April met motorneuronsiekte gediagnoseer, maar is tans in ʼn goeie toestand. “Hy hou ons almal positief.”
Dr Jody Pearl, ʼn Johannesburgse spesialis in neurologie, het aan Beeld gesê daar is verskeie teorieë oor sport en die siekte, maar dat niemand nog ʼn direkte verband tussen dit kon vind nie.
Linee het sy Springbok-loopbaan in 1993 afgeskop, hy is in 2012 na Roemenië en was die assistent-afrigter van die Timisoara-rugbyklub. Volgens die koerant het sy gesondheid begin agteruit gaan toe hy Februarie teruggekeer het na Suid-Afrika.
– Sapa