Nóg ‘n terugslag vir Karabus

Prof. Cyril Karabus

Professor Cyril Karabus sal nie hierdie naweek, soos beplan, na Suid-Afrika terugkeer nie, aangesien die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) appèl wil aanteken teen die hofuitspraak wat hom onskuldig verklaar het.

“Ons is in kennis gestel dat daar ‘n plan is om teen die hof se besluit te appelleer. Regsgesproke sal hy nie die land kan verlaat alvorens hierdie proses afgehandel is nie,” het Clayson Monyela, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge, gesê. Hy het bevestig dat die VAE-owerhede Karabus se paspoort by hulle sal hou totdat die uitkoms van die appèl bekend is.

Karabus is verlede Donderdag deur ‘n VAE-hof vrygespreek op aanklag van manslag en die vervalsing van dokumente na ‘n driejarige dogtertjie van Yemen, wat hy teen leukemie in 2002 behandel het, gesterf het. Die volgende dag is berig dat Karabus moet wag voordat hy huis toe kan keer, aangesien die aanklaers in die VAE 14 dae het om teen die uitspraak te appelleer.

Karabus, ‘n emeritus professor by die Universiteit van Kaapstad en ‘n spesialis pediatriese onkoloog, is in absentia aangekla en gevonnis. Hy is op 18 Augustus onderweg na Suid-Afrika in Dubai in hegtenis geneem nadat hy sy seun te troue in Toronto, Kanada, bygewoon het.

Karabus het Vrydag in ‘n verklaring gesê dat hy uitsien om na Suid-Afrika terug te keer en sy verjaarsdag Maandag saam met sy familie in Kaapstad te vier.

Monyela sê die appèl is ‘n regsproses waaraan Karabus homself moet onderwerp. “Die appèl verander nie die feit dat ‘n mediese hersieningskomitee van die VAE hom van enige aanspreeklikheid vir die dood vrygespreek het nie. Hy sê Karabus en sy gesin ontvang konsulêre bystand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.