Nóg ‘n verstekeling se lyk opgespoor

‘n Verstekeling se lyk is Vrydag in die landingstoestel van ‘n vliegtuig van die Nigeriese-lugredery Arik Air, opgespoor.

Die man se liggaam is in die wielholte opgespoor toe die Airbus A340-500 na Lagos van Londen teruggekeer het, het Adebanji Ola, woordvoerder van Arik Air, gesê. Dit is nie duidelik hoe die man toegang tot die vliegtuig bekom het nie. “Hulle het die liggaam gister opgespoor. Daar was nie enigiets om die liggaam met uit te ken nie,” het Ola gesê. ‘n Ondersoek sal uitgevoer word.

Talle vorige verstekelinge is al in Nigeriese en ander lande se vliegtuie opgespoor. Van die verstekelinge het óf doodgevries óf is deur die wiel doodgedruk.

‘n Man is in September dood in ‘n straat in Londen aangetref en owerhede het vermoed dat die persoon ‘n verstekeling was wat uit die wielholte van ‘n inkomende vliegtuig na Heathrow-lughawe geval het. Die man, tussen 20 en 30 jaar oud, was ‘n Afrikaan en is in die dorpie Mortlake aangetref.

Skaars twee weke voordat die man in die straat aangetref is, is ‘n verstekeling dood aangetref op ‘n British Airways-vlug wat op Heathrow vanaf Kaapstad geland het. Dié man is in die landingstoestel van ‘n Boeing 747 aangetref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.