Nóg ʼn vliegtuig land by verkeerde lughawe

Toeskouers by die lughawe Foto: Valery Mosley, The Springfield News

Toeskouers by die lughawe Foto: Valery Mosley, The Springfield News

Vlieëniers van Southwest Airlines is tydelik geskors nadat hulle Sondag by ʼn verkeerde lughawe in Missouri, Amerika, geland het.

Southwest Flight 4013 was Sondagaand van Midway-lughawe in Chicago onderweg na Branson-lughawe, maar het per ongeluk by die klein Taney County-lughawe, sowat 11 km daarvandaan, geland, het Anchorage Daily News Maandag berig.

Niemand is beseer nie, maar die vliegtuig het gevaarlik naby aan die einde van die aanloopbaan tot stilstand gekom. Daar was 124 passasiers aan boord.

“Die vlieënier het die rem baie hard getrap,” het Scott Schieffer, ʼn prokureur van Dallas en een van die passasiers aan boord, gesê. “Ek het ʼn sitplekgordel aangehad, maar ek is vorentoe geruk weens die rem. Mens kon selfs die gebrande rubber ruik.”

Branson-lughawe se aanloopbaan is sowat 2 km lank, maar die langste aanloopbaan by Taney is net meer as 1.1 km lank, omdat die lughawe vir klein, privaatvliegtuie ontwerp is.

Een van die vlugbemanningslede het die passasiers in Branson verwelkom, maar die vlieënier het net daarna oor die luidspreker laat weet: “Dames en here, ek is jammer om julle mee te deel, maar ons het by die verkeerde lughawe geland”.

Brandy King, woordvoerder vir Southwest, het gesê dit is algemeen dat vlieëniers tydelik geskors word terwyl die ondersoek voortduur. Altwee vlieëniers is veterane. Die kaptein vlieg al 15 jaar lank vir Southwest en die eerste offisier vlieg al byna 13 jaar lank vir die lugredery.

Mark Parent, bestuurder van Taney-lughawe, het gesê die aanloopbaan is gedeeltelik op ʼn stortingsterrein gebou. Daar is ʼn aansienlike sloot aan die einde van die aanloopbaan en ʼn besige snelweg aan die ander kant.

Niemand was by die lughawe toe die vliegtuig geland het nie. Werknemers was reeds ʼn uur vroeër huis toe, maar is weer ontbied ná die onverwagse aankoms.

Passasiers is met busse na Branson-lughawe vervoer.

Sodra ʼn vlieënier glo ʼn beheertoring laat weet dat hy die aanloopbaan kan sien, dan ontvang die vliegtuig gewoonlik klaring om te land. Lugbeheerbeamptes weet nie of die vlieënier moontlik na die verkeerde aanloopbaan kyk nie.

Sondag se voorval is die tweede in minder as twee maande nadat ʼn groot vliegtuig by ʼn verkeerde lughawe geland het. ʼn Boeing 747 het in November sowat 14 km ver van McConnell-lugmagbasis by Col James Jabara-lughawe geland. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.