Nóg ʼn vrieskas-moord

Skaars ʼn week nadat die bejaarde Rudolph (Koffie) en Elma van Heerden van Belfast dood in hul vrieskas aangetref is, is nóg ʼn bejaarde egpaar, Ernst en Annetjie van Rooyen, op hul plaas naby Parys vermoor en Annetjie se liggaam in ʼn vrieskas gesit.

Lt.kol. Thandi Mbambo, ʼn polisiewoordvoerder van die Vrystaat, het aan Maroela Media gesê die egpaar, tussen 70 en 75 jaar oud, se huishulp het Dinsdagoggend omstreeks 07:30 by hul huis op die plaas Somerset aangekom en gesien dit is geplunder. “Die huishulp het die egpaar gebel om te hoor waar hulle is, maar kon hulle nie in die hande kry nie. Die huishulp het ʼn buurman se hulp ingeroep en hulle het verder na die egpaar gesoek,” het Mbambo gesê.

Die huiswerker en buurman het die egpaar se liggame in ʼn motorhuis, wat as ʼn snoepwinkel gebruik is, gekry.

“Die man se liggaam is op die vloer aangetref. Sy hande en voete was vasgebind en daar was ʼn sak oor sy kop getrek. Die vrou se liggaam is in ʼn vrieskas aangetref. Hulle het geen sigbare beserings gehad nie. ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om vas te stel hoe hulle dood is,” het Mbambo bygevoeg. Items is uit die huis gesteel.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. ʼn Saak van moord word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Petra ·

My hart en gebede gaan uit na jou en julle familie. My innige meegevoel vir julle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.