ʼn Man wat glo op Kersdag ʼn vrou in die Mahikeng provinsiale hospitaal verkrag het, het Donderdag vlugtig in die Mmabatho landdroshof verskyn.
ʼn Polisiewoordvoerder, lt kol Lesego Metsi, sê die 29-jarige verdagte het glo omstreeks 15:00 op Kersdag die hospitaal binnegegaan en gesê hy kom ʼn pasiënt besoek. Metsi sê die man het na die vroue-afdeling gegaan waar hy ʼn kamer met drie vroue binnegegaan het. “Nadat hy besef het dat twee van die vrou in ʼn kritieke toestand was en nie kon praat of skree nie het hy die derde pasiënt, ʼn 22-jarige vrou, glo verkrag.” Hy is in die hospitaal in hegtenis geneem. Sy saak is uitgestel tot 2 Februarie. Intussen is ʼn ʼn manlike verpleër, wat glo ʼn verstandelik gestremde pasiënt verkrag het, Donderdagoggend in hegtenis geneem. Die 30-jarige verpleër het die pasiënt glo op Kersaand in die stort verkrag. Die voorval het glo by die Osindiswenihospitaal in Verulam, noord van Durban, plaasgevind. Die man sal Vrydag in die Verulam landdroshof verskyn. In Oktober vanjaar is ʼn manlike verpleër in hegtenis geneem nadat hy glo ʼn kankerlyer in ʼn hospitaal in Bloemfontein verkrag het. Die vrou is kort na die voorval dood.