Die liggaam van nog ʼn jong vrou van die Boland is Saterdag gevind nadat sy glo verkrag en vermoor is. Dié nuus het gevolg etlike ure nadat Anene Booysen, die 17-jarige meisie van Bredasdorp wat dood is nadat sy verlede naweek deur vier mans verkrag en vermink is, Saterdag tot ruste gelê is.
Die 19-jarige slagoffer se liggaam is in ʼn kas in ʼn woonstel in Kraaifontein gevind. Sy is ook verkrag en vermoor.
Lt.kol. André Traut, ’n polisiewoordvoerder, het gesê dat die polisie ’n moord- en verkragtingsaak ondersoek. ʼn Verdagte is reeds in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die slagoffer se naam is nog nie bekend gemaak nie.
Maroela Media het vroeër berig dat Booysen een van haar verkragters as haar voormalige kêrel geïdentifiseer het voor sy in die hospitaal oorlede is. Veiligheidswagte het verlede Saterdagoggend op Booysen afgekom. Booysen het Vrydagaand saam vriendinne gekuier en is later deur die mans verkrag en erg aangerand. Haar liggaam is ook erg geskend. Booysen is na die Tygerberg-hospitaal geneem waar sy Saterdagaand oorlede is. Drie mans is sedert die voorval in hegtenis geneem. Die voorval word uit verkeie oorde streng veroordeel. President Jacob Zuma het vir die strengste moontlike straf gevra.