Nóg onderwysskokke

Amper die helfte (43%) van Suid-Afrika se graad 5-leerders het nie die basiese leesvaardigheid van die ekwivalente internasionale graad 4-vlak nie. Verder is die Suid-Afrikaanse graad 9-leerders wat die beste vaar in wetenskap en wiskunde steeds agter die gemiddelde vordering van graad 8-leerders in lande soos Singapoer, Korea, Japan, Finland en Rusland.

Dié resultate is bekendgemaak as deel van die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS 2011) en Trends in International Mathematics and Science Study (TIMSS 2011) se jongste navorsing. PIRLS is een van die wêreld se vernaamste agentskappe in leesvaardigheidsbeoordeling en 48 lande het vanjaar daaraan deelgeneem. TIMSS word in 45 lande gemeet.

Van die Suid-Afrikaanse graad vyfs kon 43% nie die laagste internasionale norm bereik nie, teenoor slegs 5% van graad 4-leerders in die res van die wêreld. Van die graad-4 leerders wat aan pre-PIRLS deelgeneem het, het 29% nie die laagste internasionale norm bereik nie.

“Solidariteit Helpende Hand is baie bekommerd dat kinders in die Suid-Afrikaanse skoolstelsel van die swakste in die wêreld vaar,” sê dr Danie Brink, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Dit is egter interessant dat 90% van die graad 4-leerders wat aan pre-PIRLS deelgeneem het en in Afrikaans en Engels getoets is, wél die laagste vlak kon baasraak.”

“Daar is geen rede om opgewonde of tevrede te wees met hierdie uitslae nie,” sê hy. “Suid-Afrikaanse kinders wat die beste gevaar het in hierdie studie, is steeds nie op standaard met die internasionale norm nie en beslis nie naby die beste lande se toppresteerders nie. Die afgelope vier jaar het die toppresteerders ook geensins verbeter nie.”

Volgens die TIMSS-resultate is dit duidelik dat Suid-Afrika nie wêreldwyd meeding nie. Gemeet teen die internasionale standaard het Suid-Afrika se toppresteerders ─ wat leerders van privaat skole, voormalige model-C skole en kwintiel 5-skole insluit ─ nie daarin geslaag om die middelste norm van 500 punte te bereik nie.

“Moet ons maar tevrede wees om net vir die gemiddelde prestasie te mik?” vra dr Brink. “Dit is tog nie tot ons jeug se voordeel om te werk vir ʼn beter gemiddelde totaal in TIMSS en PIRLS nie. Moet ons nie eerder werk daarvan maak om die boonste vlak te verbeter sodat dit die onderste vlak ook optrek nie?

“By Solidariteit Helpende Hand word ʼn beleid van bemagtiging en opheffing deur opleiding gevolg, want ons glo dat dit die beste manier is om armoede uit te roei,” sê dr Brink. “Die omvattende dienswaardeketting bied ʼn deurlopende begeleidingsproses wat geestelike, kulturele en maatskaplike armoede aanspreek en ʼn kleuter, kind, student en jongmens uiteindelik help om hom of haar vir die wêreld van werk voor te berei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae