Nog sewe liggame gekry

Die liggame van sewe mense is in die verbrande wrak van ‘n bakkie gevind.

Weermaglede van Mexiko het Saterdag die gru-ontdekking op ‘n pad in Venustiano Carranza in die Michoacan-staat gemaak, berig Nuus24.

“Weermaglede wat die gebied gepatrolleer het, het op die grusame toneel afgekom. Die identiteit van die slagoffers kon nie onmiddellik vasgestel word nie omdat die lyke te erg verbrand was. Talle lyke is die afgelope paar weke in soortgelyke omstandighede in Michoacan en naburige state gevind,” het Nuus24 berig.
Owerhede sê die sterftes is die gevolg van ‘n konflik tussen die La Familia Michoacana- en Caballeros Templarios-dwelmsindikate.

Maroela Media het vroeër berig 49 onthoofde lyke is langs ʼn hoofweg in die noorde van Mexiko gevind. Die lyke, waarvan 43 mans en ses vrouens was, se hande en voete is ook afgekap. Volgens IOL was hierdie slagting deel van ʼn reeks voorvalle wat die afgelope paar maande in die noorde van dié land plaasgevind het. Jorge Domene, ʼn woordvoerder vir openbare veiligheid in Mexiko, het gesê die Zetas-dwelmsindikaat het verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar. Die Zetas voer glo tans ʼn skrikbewind in die land in ʼn poging om beheer oor sekere dwelmroetes te verkry. Die groep het in Augustus verlede jaar ʼn casino afgebrand, waar 52 mense dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.